Die sêding “Soms kook ek met wyn en soms gebruik ek dit selfs in die kos” is een van my gunstelinge.

Wyn is baie veelsydig. Die gebruik daarvan in kos is nie net vir die adelstand nie – ek glo enigeen kan met wyn kook.

Om dit in kos te gebruik, gaan oor balans, want dit kan soms ’n gereg oordonder. Vandeesweek verskaf Gazette twee heerlike resepte wat maklik en eenvoudig is, maar jou koservaring na ’n volgende dimensie kan neem.

Met ons streek se wyne, wat as van die bestes beskou word en gereeld by groot kompetisies koning kraai, kan dié wyne ook nou in jou geregte pronk.

SKENKELPOT MET WITWYN

Bestanddele

50 g botter

1 groot ui, fyngekap

4 wortels, fyngekap

2 selderystingels, fyngekap

2 huisies vars knoffel, fyngekap

8-10 kalfskenkels, 6 cm dik gesny

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

meel om skenkels in te rol

sowat 90 ml olyfolie

500 ml droë witwyn

200 ml hoenderaftreksel

10 ml droë basiliekruid

10 ml droë tiemie

2 blikke heel tamaties, gekap

’n hand vol fyngekapte pietersielie

2 lourierblare

GREMOLATA

gerasperde skil van 2 suurlemoene

3 huisies vars knoffel, fyngedruk

2 hande vol fyngekapte pietersielie

Só maak jy:

Meng die suurlemoenskil, knoffel en pietersielie saam – dit is die vinnigste deel van die resep.

Smelt die botter in ’n swaarboomkastrol wat groot genoeg is om die skenkels te hou.

Voeg die gekapte uie, wortel, seldery en knoffel by en braai oor lae hitte vir sowat 10 minute.

As die oondplaat te warm is, sal die botter brand; wees dus versigtig.

Bind die skenkels met ’n toutjie vas sodat dit mooi bymekaar bly wanneer dit oond toe gaan.

Geur die kalfskenkels met sout en peper en rol in die meel.

Skud die oorskiet-meel af.

Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die kalfskenkels tot bruin – net 3-4 op ’n keer.

Dis nou waar die geduld inkom.

Plaas die skenkels bo-op die gebraaide mengsel uie, wortel, knoffel en seldery.

Verhit die oond tot 180 °C vooraf.

Giet die wyn in die pan waarin die skenkels gebraai is.

Kook tot die helfte af.

Voeg die hoenderaftreksel, basilie­kruid, tiemie, tamatie, pietersielie en lourierblare by en bring tot kookpunt.

Gooi oor die skenkels.

Bring tot kookpunt op die stoof.

Sit die deksel op en sit die bak in die verhitte oond vir sowat 2 uur.

Die skenkels moet sag wees en die sous taamlik afgekook.

As daar nog te veel sous na jou smaak is, laat die gereg sonder die deksel in die oond bly totdat die sous effens meer afgekook het.

Sit voor saam met rys en strooi gremolata bo-oor.

MOSSELS
Bestanddele

60 ml olyfolie

4 knoffelhuisies, fyngedruk

2 uie, middeldeur en dan in dun skywe gesny

1-2 vars rooi rissies, pitte verwyder en fyngekap

4 lourierblare

250 ml droë witwyn

1,5 kg mossels, afgespoel en gedreineer

125 ml droë witbroodkrummels

60 ml gekapte vars pietersielie

So maak jy:

Gooi 45 ml olyfolie in ’n groot kastrol en verhit dit oor matige hitte.

Voeg die knoffel by en roerbraai dit vir 30 sekondes voordat jy die ui, rissie en lourierblare bygooi. Soteer dit vir ’n paar minute totdat dit sag is.

Voeg die wyn by en verhit dit totdat dit vinnig kook. Gooi die mossels by, roer dit deur en laat dit vir 3-4 minute kook. Wikkel die kastrol ’n paar keer terwyl dit kook.

Gooi die broodkrummels by wanneer die mossels oopgemaak het.

Roer dit deur en laat dit vir ’n minuut kook voordat jy die pietersielie en die orige olyfolie byroer. Sit dit so gou as moontlik voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article