Die Ashton-polisie ondersoek nog die omstandighede rakende die dood van ’n 18-jarige vrou.
Die lyk van Sharlene Nini is Sondag 13 November in Klaasvoogds gevind.
“Volgens inligting is die slagoffer Saterdagaand by die polisie as vermis aangemeld.
“Die oorledene se liggaam is Sondag gevind nadat dit aan die polisie uitgewys is,” het sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder vir die provinsiale polisie, aan Gazette verduidelik.
Volgens berigte is ’n bebloede baksteen glo langs die oorledene se lyk gekry.
Die polisie kon dit egter nie bevestig nie.
Twigg het wel bygevoeg dat ’n 21-jarige verdagte in hegtenis geneem is.
“ ’n 21-jarige vrou is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal in die Robertson-landdroshof verskyn sodra sy aangekla word,” het Twigg gesê.
In ’n afsonderlike voorval is die lyk van ’n man Saterdag 1 November in Bonnievale gevind.
“ ’n Volwasse man is daardie Saterdag om 19:40 in die bors gesteek en is op die toneel dood verklaar,” het sers. Sarah Julies, ’n woordvoerder van die Bonnievale-polisie, bevestig.
Die voorval, wat in die Mountain View-buurt plaasgevind het, het glo ná ’n bakleiery gebeur.
“Mense beweer die voorval het gevolg op ’n gestryery tussen die partye.
“Die verdagte is later die aand in hegtenis geneem.”
Die verdagte het Maandag 14 November en weer op Woensdag 16 November op aanklag van moord in die hof verskyn.
Hy word steeds aangehou.




