Dit is al wat oor is van die ou tronkselle in Hoopstraat, Robertson. Foto: JP Myburg


“Die een dag was die geskiedkundig ou tronk met sy meer as 150 jaar geskiedenis nog pronkend staande. Die volgende dag was ’n hopie bakstene al wat oor was.”

Só vertel die historikus en die plaaslike museum se bestuurder, Dianne Coetzee, aan Gazette.

Coetzee is al dekades lank betrokke by die bewaring en beskerming van plaaslike bakens in die Robertson-omgewing en het ’n liefde vir die dorp se diep gegronde geskiedenis.

Coetzee is onlangs, nes talle ander inwoners, diep geskok toe die geskiedkundige ou tronkselle sowat twee weke gelede in Hoopstraat gesloop is om plek te maak vir uitbreiding van ’n bekende motorhandelaar in die dorp.

“Wat kan ’n mens nou eintlik sê? Ek het jare probeer om hierdie gebou te beskerm. Ek het by die munisipaliteit asook die provinsiale erfeniskantoor gepleit. Twee weke gelede is ek gevra of ek asseblief die ou tronkselle se deure by die museum kan bewaar, aangesien die gebou gesloop word. Ure later was die geboue, wat in 1860 opgerig is, net platgeslaan.”

Verskeie inwoners het ook aan Gazette gesê dat dit ’n groot slag vir die dorp en sy geskiedenis is.

“Ons werk is om ons geskiedenis en erfenis te beskerm. Dit is al wat ons oor het. In ’n wêreld waar alles platgestoot word om plek te maak vir sakeondernemings en fabrieke gaan ’n stukkie van ons geskiedenis verlore. Robertson en omliggende dorpe is dorpe met ryk geskiedenis, en nou skep ons ’n presedent van verwoesting en vernietiging. Die ergste is dat die mense wat betaal word om dit te beskerm, diegene is wat die toestemming verleen,” vertel Michael Uren aan Gazette.

Die Langeberg-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Anton Everson, het aan Gazette bevestig dat hulle bewus is van die sloping van historiese struktuur.

“Om aan die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne te voldoen, moet enigiemand wat historiese strukture wil wysig of sloop, by Erfenis Wes-Kaap (EWK) aansoek doen om toestemming om dit te doen.

“Die eienaar van die motorhandelaar het by die EWK aansoek gedoen vir die totale sloping van die woning, die selle en die destydse Suid-Afrikaanse Polisie se kantoor op die terrein,” het Everson aan Gazette bevestig.

Volgens Everson is toestemming vir sloping al op 12 Augustus 2020 deur die EWK verleen, maar sekere voorwaardes is voorgeskryf. Nadat die permit toegestaan is, is ’n slopingspermitaansoek by die Langeberg-munisipaliteit ingedien, wat later toegestaan is.

Die EWK sê egter hy het nie ’n rekord in sy besit rakende die betrokke eiendom en die sloping van die ou tronk nie. Die EWK het aan Gazette bevestig dat die saak verder ondersoek sal word. Die organisasie gee wel toe dat hy die afgelope paar jaar toestemming verleen het vir die sloping van verskeie geboue in Hoopstraat.

“Die EWK is die provinsiale erfenishulpbronowerheid wat verantwoordelik is vir die identifisering, beskerming, bewaring, bestuur en bevordering van erfenishulpbronne in die provinsie. Die mandaat van die EWK word in die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, Wet 25 van 1999, uiteengesit.

“In Artikel 34 van die NHRA, wat handel oor strukture ouer as 60 jaar, stel ons mandaat dat geen struktuur of deel van ’n struktuur wat ouer as 60 jaar oud is, verander of gesloop mag word sonder die relevante ondersoek en evaluering nie. Die munisipaliteit moet egter enige aansoeke inneem en die bouplanne bestudeer en in samewerking met ons kantoor die besluit neem,” sê die adjunkdirekteur van EWK, Colette Scheermeyer.

Coetzee sê ’n gedeelte van die ou tronkselle het jare gelede skade gelei en hulle het eintlik gehoop dit sal herstel kan word in samewerking met erfenisowerhede, maar hierdie droom is nou een wat sy sal moet laat gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article