Madelie en Christo Jansen van Robertson se 2017 Toyota Fortuner het erg deurgeloop nadat hul motor verlede week op die R60 buite Worcester onder die klippe gesteek is.

Credit: SYSTEM

Motoriste word gemaan om paraat te wees as hulle snags – veral tydens beurtkrag – op die R60 tussen Robertson en Worcester ry.

Hierdie waarskuwing volg nadat talle motoriste weer die afgelope tyd op hierdie pad tussen dié twee dorpe met klippe en voorwerpe bestook is.

Dit is ook nie die eerste keer wat Gazette oor hierdie neiging berig nie, maar dit lyk of gevalle van hierdie aard juis tydens beurtkrag geskied.

Madelie Jansen en haar lewensmaat, Christo, het Woensdag 16 November omstreeks 22:15 die pad van Worcester af terug na hul huis in Robertson aangepak. Hulle was skaars uit die dorp toe die eerste klip na hul voertuig geslinger is, en enkele meter verder ook ’n bottel.

“ ’n Mens skrik as só iets gebeur en dis asof jy eers nie registreer wat aangaan nie. Die pad was vreeslik donker, want dit was immers beurtkrag. Ek het ’n paar mense langs die pad sien hardloop en die volgende oomblik gehoor hoe iets ons kar tref. Daarna het ek besef iets is fout. Hul modus operandi is waarskynlik om ons tot stilstand te dwing,” het Madelie aan Gazette vertel.

Die paartjie het bloot net hul Toyota Fortuner in vyfde rat gesit en aanhou ry.

“Ons het net gery en die polisie probeer skakel, maar dit is moeilik om so iets aan te meld. Toe ons by die vulstasie in Robertson kom, het ons dadelik om die voertuig geloop. Iemand het gewis ’n bottel na ons kar toe gegooi, maar ons het geen skade daarvan gesien nie. Iemand het wel ’n klip of baksteen na die passasiersdeur gegooi en die agterste passasiersdeur getref. Daar het ons nogal skade. Ons het versekering, maar nogtans. Wat van mense wat nie R6 000 het om dit reg te maak nie, of diegene wat stilhou en dalk deur hierdie kwaaddoeners aangeval word?”

Gazette het in 2020 asook 2021 berig oor dieselfde tendens net buite Worcester en by die Zwelethemba- tydelike indraai.

Die plaaslike polisie het aan Gazette verduidelik mense wat die slagoffer van so voorval is, moet nie stilhou nie en dadelik die owerhede kontak.

In ’n vorige berig het Gazette met die Overhex-buurtwag/plaaswag se voorsitter, Frans Pietersen, gesels nadat hy verlede jaar ook op dié pad onder die klippe gesteek is. Pietersen het op die plaaswag se Facebookblak en talle ander plaaslike sosialemediablaaie inwoners gevra om op daardie pad paraat te wees.

Talle het dit toegeskryf aan die feit dat ’n sirkel aangebring is om verkeer na die Transhex-behuisingsprojek te herlei, terwyl nder bloot voel wetstoepassers moet die pad vir veiligheid patrolleer.

Madelie het gesê hulle is dankbaar dat hulle veilig is, maar gevra iets moet aan die saak gedoen word.

“Ons wil ander mense waarsku en hoop iets gaan nou hieraan gedoen word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article