Die openbare gesondheidstelsel verkeer onder geweldige druk – ook hier in die Swartland en die Weskus.

Só vertel Leensie Lötter, provinsiale kommunikasiebeampte vir die Weskus-distrik se gesondheidsdepartement.

Buitengewone hoë pasiëntgetalle is gedurende voorverlede naweek (26 en 27 November) by die plaaslike noodeenheid aangemeld.

Die druk op die gesondheidstelsel word grootliks toegeskryf aan geweld en veiligheid, dwelmmisbruik, werkloosheid, beperkte ekonomiese geleenthede en ander faktore wat onder meer verdere druk op die gesondheidstelsel plaas, bevestig Lötter.

Van die sowat 23 gevalle wat oor die spesifieke naweek aangeteken is, was sewe messteekgevalle, twee seksuele aanrandings en vyf gewone aanrandings, volgens die Swartlandse noodeenheid se data.

“Dit is belangrik om in ag te neem om pasiënte in ’n noodeenheid te sien, tyd in beslag neem.”

Sy verduidelik dat dit hier nie net oor syfers gaan nie.

“Hoe sieker die pasiënt is, hoe meer kompleks is die geval en hoe meer tyd moet die dokter(s) aan hulle afstaan. Dit beïnvloed dus die wagtye van pasiënte met minder ernstige siektes of beserings wanneer hulle toegang tot gesondheidsorg via die noodeenheid verkry.”

Die Swartland-hospitaal, soos al die hospitale onder die Wes-Kaapse regering, volg die triage-stelsel, verduidelik Lötter verder. Dit beteken dat wanneer ’n pasiënt by die noodeenheid aankom, word hul toestand deur die triage-stelsel bepaal, om seker te maak dat hulle volgens die erns en lewensbedreigende aard van hul toestand behandel word.

Pasiënte word volgens ’n kleurkode in die triage-stelsel ingedeel, naamlik groen, geel, oranje en rooi. Groen dui die minste ernstig aard aan en rooi baie ernstig en lewensbedreigende toestande.

Pasiënte wat dus groen of geel geklassifiseer is, gaan soms dus langer moet wag om by die noodeenheid gehelp te word, veral oor naweke, wanneer dit baie besig is.

Pasiënte word die feestyd dus weer herinner én aangemoedig om slegs na die hospitaal se noodeenheid te gaan vir noodgevalle en lewensbedreigende toestande. “Ons noodeenheid se personeel maak staat op ons pasiënte se samewerking sodat hulle by die korrekte vlak van sorg aanmeld ter wille van hulself, maar ook vir hul mede-burgers.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article