Reagen Allen, die provinsiale minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het die eenheid saam met die Swartland-munisipaliteit se burgemeester, Harold Cleophas, en Neville Matthys, hoof van die Swartland se wetstoepassingsdienste, inspekteer.


“Wat ’n dag; wat ’n oomblik.” Dít is hoe die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, die geleentheid beskryf het waartydens die eerste reaksie-eenheid van sy soort in die Wes-Kaap bekendgestel is.

“Die Swartland-munisipaliteit was eerste uit die blokke met die inisiatief,” beskryf Cleophas die inisiatief waarmee die munisipaliteit en sy bestuurspan die leiding geneem het om die projek daar te stel.

Die amptelike bekendstelling van die eenheid, wat uit 20 beamptes bestaan, het die afgelope Dinsdag by die N7-weegbrug buite Moorreesburg plaasgevind.

Die spesiale geleentheid is onder meer deur die Wes-Kaapse provinsiale minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, die uitvoerende burgemeesters van die onderskeie munisipaliteite binne die Weskus-distrik, lede van die SAPD én verteenwoordigers van Stad Kaapstad bygewoon.

Die reaksie-eenheid sal voortaan nie net die Swartland dien nie, maar die hele Weskus.

Die eenheid is danksy finansiering deur die Wes-Kaapse provinsiale regering moontlik gemaak om die groeiende kommer rakende veiligheid en sekuriteit hok te slaan.

Die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, verduidelik hy het kort ná ’n vergadering vroeg verlede jaar rakende ’n voorlegging oor die area-gebaseerde spanne (ABT) as deel van die Wes-Kaapse veiligheidsplan daarvoor aansoek gedoen. Volgens hom het hy nie in daardie stadium die voordele besef sou ’n munisipaliteit se aansoek suksesvol wees nie.

Die reaksie-eenheid het uiteindelik uit dié inisiatief gevloei.

Scholtz sê volhoubare vennootskappe met die provinsiale departemente is nodig en dit is duidelik dat meer op veiligheid en maatskaplike ontwikkeling gefokus moet word.

Die eenheid is deel van die Swartland-munisipaliteit se voortdurende taak om veiligheid- en sekuriteitsagentskappe en instellings op plaaslike en streeksvlak te ondersteun en uiteindelik ’n veiliger omgewing vir inwoners te skep.

Die beamptes sal bydra tot sigbare polisiëring en broodnodige steun aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens reg oor die Weskus-distrik bied soos wat dit nodig is.

Sowat 600 aansoeke is ontvang, waaruit uiteindelik 20 beamptes uit die Swartland-munisipaliteit aangestel is.

“Die reaksie-eenheid is ’n waardevolle toevoeging tot die veiligheid in die Swartland en die Weskus,” het Cleophas gesê.

Volgens hom is voorheen al bewys sigbare polisiëring kan ’n daadwerklike invloed op die daling in misdaadsyfers onder plaaslike gemeenskappe hê. Hy het die klem op die tekort aan mannekrag gelê, wat ’n demper plaas op pogings om misdaad te bekamp. “Die eenheid gee ’n betekenisvolle hupstoot in ons werk om ’n veilige omgewing onder ons gemeenskappe te skep.”

Hy het sy dankbaarheid teenoor die provinsiale regering uitgespreek en sê hy hoop die ekstra 20 beamptes sal tot inwoners se gemoedsrus oor die komende feestyd bydra.

David Coetzee, uitvoerende direkteur van gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het gesê samewerking is die kern van ’n suksesvolle vennootskap.

“Innovasie en kreatiwiteit was ook elkeen teenwoordig by die geleentheid om die vennootskap suksesvol te maak,” brei hy uit.

Hy het gaste daaraan herinner dat ’n veilige provinsie die minister (Allen) se visie met sy intreeslag was en steeds is. “Van die provinsiale regering se kant af streef hulle na suksesvolle vennootskappe om in hul visie van provinsiale veiligheid te slaag.

Allen is dit eens dat samewerking krities tot suksesvolle wetstoepassing is. Hy het die Swartland-munisipaliteit geloof vir hul inisiatief wat tot die reaksie-eenheid gelei het.

Volgens Allen sal hy graag die moordsyfer met 50% wil sien daal. “Ons moet opstaan, uitgaan, die seile span en die gety van misdaad laat draai.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article