’n Plaaslike skool buite Malmesbury woeker met projekte en is boonop suksesvol in elkeen wat hulle tot dusver aangepak het.
Die Anne Pienaar Gedenkskool op die plaas Jakkalsfontein het in minder as twee jaar daarin geslaag om ’n spoggerige groentetuin op die been te bring en pluk nou behoorlik die “groente” daarvan.
Die skoolhoof, Annemarie Duvenhage, het sowat ’n jaar en ’n half gelede as hoof by die Anne Pienaar Gedenkskool ingeval en verskeie projekte is met haar aankoms begin.
Danksy talle borge en ondersteuning uit die plaaslike gemeenskap, asook verskeie instansies, is onder meer nuwe lewe in die biblioteek geblaas, ’n netbalbaan is gebou, die skoolsaal is buite en binne opgeknap, ’n onderwyseres en assistente is aangestel én ’n suksesvolle groentetuin is gevestig.
Die skool het egter met haar aankoms ’n tuin gehad, sê sy.
Duvenhage het kort ná haar aanstelling opgelet dat ’n juffrou, Loandri van Wyngaardt ’n liefde vir die bestaande tuin koester. Sy wou graag die tuin tot sy volle potensiaal neem. Van Wyngaardt het in April 2020 by die skool as onderwyseres begin werk. Sy het ook ’n groentetuinprojek by haar vorige skool op die been probeer bring.
Duvenhage het besef Van Wyngaardt het nie genoeg hande om haar te help nie. Sy kon ook weens beperkte personeel nooit haar klaskamer verlaat nie, verduidelik Duvenhage.
Van Wyngaardt, wat aan die stuur van die groentetuinprojek is, het in Julie 2020 met die nuwe tuin begin, en kort voor lank ’n indrukwekkende ontwikkelingsplan aan die departement van onderwys gestuur, waarna hulle vir ’n tuinier gekwalifiseer het. Die eerste groentesaad was ’n maand later reeds in die grond.
Duvenhage het intussen ook die Cape Winery Trust genader, wat hulle in staat gestel het om ’n onderwyser én nóg ’n tuinier aan te stel.
Fortuin Abrahams en Riaan Booisen, wat uit die plaaslike omgewing kom, het ’n groot passie vir groentetuine en lewer ’n baie positiewe bydrae, vertel Van Wyngaardt. “Die sukses van hierdie tuin lê beslis by die tuiniere. Hulle werk hard en gebruik hul eie inisiatief om die tuin ’n sukses te maak,” sê Van Wyngaardt dankbaar. Die tuin pronk deesdae met byna 30 verskillende groente, vrugtebome en kruie aan die groei.
Sy het verlede jaar besluit om die tuin vir die departement se 2021-skooltuin-kompetisie in te skryf. Volgens Duvenhage is die skool vooraf gewaarsku dat hulle nie sommer met hul eerste inskrywing sou wen nie.
Van Wyngaardt en haar span tuiniers het sommer vinnig almal verkeerd bewys en ’n ongelooflike R15 000 met hul tweede plek losgespit. Die provinsiale kompetisie, wat deur die departement se nasionale voedingskemaprogram vir skole van stapel gestuur is, het Anne Pienaar beloon vir die tuin se volhoubare voedselproduksie en suksesvolle benutting daarvan.
Die program moedig skole aan om ’n groentetuin te begin wat die voedingskema met kos help voorsien, maar ook deel van die kurrikulum vorm. Dit gaan nie vir hulle oor hoe mooi en groot die tuine is nie, verduidelik van Wyngaardt verder. Anne Pienaar Gedenksool was een van agt skole in afdeling B (Weskusstreek) wat vir die kompetisie ingeskryf het.
Van die geld is reeds in die tuin teruggeploeg, terwyl die skool die oorblywende geld wil gebruik vir die installering en aansluiting van watertenke. Drie watertenke is deur ’n plaaslike borg, die Mount Royal Trust, geskenk, wat deel vorm van R30 000 se goedere wat nodig was om die groentetuin te vestig. Die skool benodig nou net ’n kundige op die gebied om die watertenke te installeer en aan die gang te kry.
Hoewel nog baie planne vir die tuin voorlê, groei die groente dat dit bars.
Die groentetuin is ook deel van die kurrikulum, verskaf groente aan die voedingskema en groente word ook gereeld aan mense in die omliggende gemeenskap verkoop.
Duvenhage vertel hoe lief die leerders vir kool is. “Ons pluk gewoonlik meer, omdat die kinders so lief is daarvoor,” sê sy met ’n glimlag.
Die sowat 240 leerders ontvang elke dag kos wat in die skool se kombuis verskaf word.
Janine Fikster en Micheala Papier is hier verantwoordelik vir die smullekker maaltye.
“Die groentetuin dien verder as ’n opvoedkundige hulpbron. Dit motiveer die leerders om ook hul eie groentetuine by die huis te kweek en ontwikkel só ’n trots,” vertel sý met groot trots.
Die oortollige saadjies word graag huis toe gestuur, sê Van Wyngaardt.
Sy hoop verder dat die groentetuin onder meer respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, burgerskap en omgee by die leerders sal kweek deurdat hulle sal betrokke wil raak. “Die groentetuin het ’n positiewe impak op die leerders,” brei sy met oorgawe uit.
Die skool en sy personeel is behoorlik oorweldig deur die plaaslike gemeenskap se bydraes en skenkings. Volgens Van Wyngaardt sou niks hiervan daarsonder moontlik gewees het nie, sluit sy met groot dankbaarheid af.





