Abraham van Zyl (34) en sy spanmaat, Michelle Theron (35), is Sondagaand in die slotepisode van My Kitchen Rules SA as die seisoen se wenners aangekondig.
Nie net het Van Zyl en Theron ’n paar weke gelede daarin geslaag om geskiedenis op dié werklikheidsprogram te maak nie, maar stap as die amptelike wenners van die gewilde kookspel weg. Van Zyl en Theron het in episode 10 ’n rekordgetal punte in die geskiedenis van die reeks ingepalm. Die wenspan deel ’n geldprys ter waarde van R1 miljoen en wonderlike herinneringe wat hulle altyd sal bybly.
Van Zyl, oorspronklik van Malmesbury, het Sondagaand meer as 50 mense in die huis gehad om die groot oomblik te vier. Hy vertel verder hulle het vooraf niks verwag of geweet nie. “Ons het ook eers Sondagaand uitgevind wie die wenners was,” voeg hy by.
Van Zyl het die ervaring om eerste op die podium te eindig, as ongelooflik beskryf. “Dit is baie lekker. Ons is oorweldig deur al die gelukwense, oproepe, boodskappe en aandag.”
Hul eerste onderhoude met verskillende mediahuise het kort ná die aankondiging gevolg.
Theron het die oomblik aan haar ouers, Ronel en CP, wat beide oorlede is, opgedra. “Hulle was reg deur die seisoen met ons,” het sy Sondagaand aan Danny Painter vertel.
Groot dinge lê nou vir dié twee wenkokke voor, maar hulle gaan die oomblik vir eers net geniet. “Ek gaan heel eerste al my skuld vereffen van al die partytjies van die afgelope Sondagaande,” skerts hy. Hulle beplan voorlopig ’n besoek aan Frankryk tydens volgens jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi, maar Van Zyl het onder meer sy oog op ’n spesifieke skildery wat hom altyd aan hierdie oomblik sal herinner.
Dit was uiteindelik hul treffernagereg, die “Brandy en Coke”-nagereg, wat die beoordelaars oortuig het die titel as MKRSA se wenners van 2022 behoort aan hulle.
Die gereg is so tipies Suid-Afrikaans as wat die uitdaging van hulle vereis het. Die resep het sy oorsprong uit ’n Huisgenoot-tydskrif van die jaar 1987.
Die papier waarop die resep was en wat deur ’n gemeenskaplike vriend aan hulle gegee is, kom ook nog uit die oorspronklike tydskrif, vertel Van Zyl opgewonde.
Sy ouers, Ilse en Du Toit van Zyl, wat steeds in Malmesbury woon, is net so opgewonde vir hulle. “Ek het in my hart geglo hy gaan wen, maar dit is omdat hy my kind is,” vertel Ilse soos net ’n ma kan. Volgens haar was sy veral beïndruk met Van Zyl en Theron se tegnieke en hoe hulle altyd meer na die tafel gebring het as wat van hulle verwag is. Ongeag beurtkrag en gure weer, wat veroorsaak het dat hulle nie die direkte uitsending kon saam kyk nie, was hulle dadelik op hoogte van die groot oomblik.





