Agter, van links: Lourens Heyns, Lambert van Heerden en Francois Barnard sr. Voor: Bernadette Bezuidenhout, Zoerika van Heerden, Francois Barnard jr. en Tsakani Makhubela.

Credit: SYSTEM

’n Maatskappy in Bonnievale se missie is om werk en geleenthede vir gestremde inwoners van die Langebergstreek te skep.

Qnet Agri het sy deure ses maande gelede geopen en twee maande later sy eerste gestremde werknemer aangestel.

“Ek het lank by ’n maatskappy gewerk en hulle het al die bronne gehad om gestremde mense werk te gee. Toe ek by hulle klaarmaak en hierdie onderneming saam met my vennote begin, het ek besluit ek wil daardie inisiatief aanpak,” verduidelik Lambert van Heerden, een van die vennote.

Verder, verduidelik hy, “is ons leuse Show your disability, your ability. Ek het gevoel hier is so baie werkloosheid en dit staar ons daagliks in die gesig. En op hierdie manier bou ons ook die gemeenskap en leer ook die mense nuwe vaardighede.”

Die gestremde werknemers kry dan ná ’n jaar ’n beroepskwalifikasie.

“Met hierdie kwalifikasie kan werknemers dan eendag ook ’n eie onderneming begin en selfs ander werk kry,” verduidelik hy.

Hulle het tans ses gestremde werknemers en beplan om hierdie getal binne die volgende drie tot vier jaar tot 150 werknemers te vermeerder. Die jongste is 30 jaar oud, en hul oudste werknemer is 57.

“Sakeondernemings kan aan boord kom en die werknemers borg. Hierdie ondernemings kry dan BEE-sertifikate en kan ook by Sars eis. Ons probeer om meer ondernemings te kry om deel te wees van hierdie projek sodat ons meer mense kan oplei en werk kan skep.”

Van Heerden verduidelik die werknemers verlaat nie die maatskappy nadat hulle hul kwalifikasies ontvang het nie.

“Ons probeer om ’n vier- tot vyfjaarplan vir hulle uit te werk. Nadat hulle dan hul kwalifikasies gekry het, kan hulle ander mense, wat ná hulle begin het, oplei en vaardighede leer.”

Qnet Agri maak van kussings tot logo-T-hemde, hempies en oorpakke en doen ook borduurwerk op verskeie items.

Die maatskappy beplan om binne die volgende paar maande ook komberse te begin maak.

Een van hul werknemers, Margaret Louw, meen hierdie is haar droomwerk. Sy gebruik al 43 jaar ’n rolstoel.

“Hierdie werk was my hartsbegeerte. Dit is my passie om met my hande te werk en naaldwerk te doen. En ek hou ook daarvan om ander die werk te leer,” meen sy.

Sy werk tans as ’n masjienoperateur en is dankbaar vir die geleentheid wat Qnet vir haar geskep het.

“Qnet het ons harte gesteel en my lewe kom verander. Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid. Vir ander gestremdes wil ek ook net se – moenie jouself bejammer nie. Deure sal oopgaan vir jou; baie is daar buite vir jou.”

Een van Qnet se grootste borge is Lactalis (Parmalat).

“Hulle het ons baie gehelp om hierdie projek van die grond af te kry. Ons kon danksy hul finansiering dit op hierdie manier terugploeg in die gemeenskap. Ons is baie dankbaar teenoor hulle en ons ander kliënte. Ons het nog ondernemings nodig om op hierdie manier betrokke te raak, sodat ons die projek nog groter kan maak,” se Van Heerden.

Hy nooi gestremde werksoekers om ’n draai by Qnet Agri te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article