MONTAGU – Die plaaslike polisie, in samewerking met ander wetstoepassingseenhede, het enkele dae voor Kersfees ’n groot misdaadvoorkomingsoptrede in die dorp uitgevoer en verskeie mense in hegtenis geneem.
Die optrede, wat op 21 Desember gehou is, was deel van die polisie se veiligheidsprogram oor die feestyd.
Beslag is gelê op ’n aantal tikstrooitjies, mandrax-tablette en geld.
Vier mense is in verband met dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem, terwyl een verdagte weens die besit van ’n gevaarlike wapen (panga) en nog een weens die verbode handel in beskermde plante in hegtenis geneem is.
Die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies sowel as Boland Risk Security het die plaaslike polisie tydens die misdaadvoorkomingsoptrede bygestaan.



