Die 23-jarige Nico-Jan Willemse van Bonnievale is die afgelope vakansie in ’n botsing in Mpumalanga oorlede.


‘n Enkelma van Bonnievale is verpletter nadat sy haar enigste kind die afgelope vakansie aan die dood afgestaan het.

Nico-Jan Willemse (23) is tragies dood nadat die motor waarin hy en sy vriendin gereis het, sowat 20 km voor Nelspruit in ’n botsing reg van voor betrokke was.

Willemse, ’n boer in Amerika en boorling van die Boland, is op slag dood. Sy vriendin, wat die motor bestuur het, is ongedeerd, maar kon nie deur Gazette vir kommentaar bereik word nie.

Sy ma, Ester, vertel dat sy dié nuus Vrydag 30 Desember moes aanhoor.

“Ek het die hele oggend ‘n nare voorgevoel gehad oor iets. Ek en Nico het die vorige aand nog gesels. Hy en sy vriendin sou ’n paar dae later hierheen (Bonnievale) gekom het nadat hulle by haar ouers vakansie gehou het. Ek was in die dorp besig toe my foon lui. Daardie oproep het my lewe verander,” vertel sy aan Gazette.

Die provinsiale polisie in Mpumalanga het die tragiese botsing aan Gazette bevestig.

Ester sê sy sukkel om te onthou presies wat gesê is toe sy die oproep ontvang het.

“Hulle het teen ’n vragmotor gebots. Dit is al wat ek onthou. Ek het dadelik gevoel ek het die belangrikste ding in my lewe verloor. Dit was ’n gevoel van leegheid; iets wat ek laas beleef het toe my ma oorlede is.”

Sy vertel al snikkend hoe sy dae lank oor dié skoknuus onophoudelik gehuil het en sê sy wens sy kan sy stem net een laaste keer weer hoor.

“Hy sou nou in Februarie weer Amerika toe gegaan het. Ek was so trots op hom en hy het nog altyd so hard gewerk. Hy was in ’n landbouskool in Riversdal en is daarna dadelik Amerika toe. Hy was gewild en sou altyd almal help.

“Hy was my trots –en my rots,” sê sy verder.

Willemse en sy ma het in 2009 van Stellenbosch na Bonnievale verhuis om nader aan familie te wees nadat sy pa aan ’n hartkwaal oorlede is.

“Hy het my deur alles staande gehou, en nou voel dit asof ek niks meer oor het nie.”

Willemse se liggaam is veras en die oorskot het onlangs in Bonnievale by sy ma se huis aangekom.

“Ons wil dit in die Weskus gaan strooi. Hy was mal oor die Weskus – veral om daar te gaan visvang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article