MONTAGU – Die Montagu-krieketklub het Saterdag (21 Januarie) op die King Edward-sportterrein in sy tuisdorp teen die Robertson-krieketklub se C-span te staan gekom.
Montagu het dié T20-krieketkragmeting, ’n derdeliga-wedstryd van die Boland-krieketunie, maklik gewen nadat hy die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Hy het 145 lopies vir die verlies van agt paaltjies in sy 20 boulbeurte aangeteken.
Jaco Joubert (38), Denver Botha (30) en Keanon Landsman (27, nie uit nie) het vir die tuisspan goeie bydraes met die kolf gelewer.
Vir Robertson-C het William Apollis (4/15) en Will van Staaden (1/10), wat albei vier boulbeurte afgestuur het, goed geboul en saam vyf paaltjies in Montagu se kolfbeurt laat spat.
Nadat Montagu se kolfbeurt voltooi is, het Robertson-C met syne begin, maar erg teen Montagu se vurige boulwerk gesukkel.
Robertson-C se kolwers het die een ná die ander voor die tuisspan se vuurwarm boulaanval gesneuwel.
Die besoekers se Lemart Adams (23) en Will van Staaden (10) het moedig, maar tevergeefs probeer om hul span by die wenteiken uit te kry.
Die besoekers het met ’n gekners van tande darem by 60 lopies uitgekom.
Jurrane Pekeur (3/13), Lee-Hagan Pietersen (2/4), Ryan Anderson (2/6) en Jaundre Plaatjies (2/6) is die boulers van Montagu wat Robertson-C se kolfbeurt verwoes het.
Montagu het die wedstryd uiteindelik sonder veel sweet gemaklik met 84 lopies gewen.. Saterdag (28 Januarie) speel Montagu teen Worcester se A-span op Esselenpark in Worcester vir ’n moontlike plek in die eindstryd, wat op 4 Februarie plaasvind.



