Die Hoërskool Piketberg pronk met ’n 100%-slaagsyfer, en asof dié prestasie nie genoeg is nie, het elke leerder wat in 2022 sy of haar nasionale seniorsertifikaateksamen geskryf het, toegang tot verdere studies behaal.
Altesaam 62 leerders het die 2022-matriekeindeksamen voltooi.
Van hulle het 74,2% met toelating tot ’n B-kursus geslaag, terwyl 21% toelating vir ’n diplomakursus ontvang het en 4,8% met toelating tot ’n hoër sertifikaat geslaag het.
Dié skool se 2022-matrieks het 30 vakonderskeidings behaal, terwyl twee kandidate met ’n A-gemiddeld spog.
Jana Truter is 2022 se topmatrikulant van die Hoërskool Piketberg. Sy het ’n gemiddeld van 80,1% en vier onderskeidings as deel van haar prestasie behaal.
Kasey Wessels, wat ’n gemiddeld van 80% asook vier onderskeidings behaal het, is tweede.
Benco Grobler spog op sy beurt met ’n derde plek op die ranglys met 76,6% en drie onderskeidings.
Truter vertrek Donderdag na die Universiteit van Pretoria om haar BSc in geografie en omgewingswetenskappe aan te pak. Sy wou nog altyd in dié rigting studeer om ’n positiewe impak op haar land se natuur te hê deur dit te beskerm en te herstel, maar ook meer kennis in te win. Sy het die vak op skool ook baie geniet. Haar raad aan vanjaar se matrikulante is om eerlik te wees met hulself oor hul sterkpunte. “Jy moet deur konstante werk reg deur die jaar daarop fokus. Moet jou nie bekommer om jou presiese lewenspad vooruit te beplan nie, solank jy aksie neem en jouself druk om net so ’n klein bietjie beter te wees as gister,” sluit sy af.





