Die la Grange-gesin moes 20 jaar lank sukkel met riool wat gereeld deur hul agterplaas gespoel het.

Credit: SYSTEM

Inwoners van die Langeberg-streek is keelvol oor swak dienslewering en meen ’n gebrek aan kommunikasie dra by tot talle inwoners se frustrasie.

Talle klagtes oor riool en rommel word op ’n gereelde basis by die plaaslike Langeberg-munisipaliteit aangemeld, en sommige inwoners moet soms dae lank wag om hulp te kry.

Vir die La Grange-gesin van Bonnievale was die gewag vir bystand nie ’n paar dae of weke of selfs maande nie, maar inderwaarheid amper 20 jaar.

Albertus en Chantel la Grange skryf sedert 2004 gereeld aan die munisipaliteit om klagtes in te dien weens riool wat in hul erf en selfs tot op hul agterstoep opstoot en oorspoel. Hul eiendom is langs die hoofweg van die dorp geleë.

“Ons kry die meeste kere geen antwoord nie. As die pompstasie foutief is, dan spoel die riool tot in ons erf. Ons is die laaste eiendom op die netwerk en ons moet elke keer die probleem probeer oplos,” lui ’n ope brief wat hulle aan die munisipaliteit gerig het.

Hulle maak ook melding van die feit dat klagtes soms nooit opgelos word nie of soms net tydelike oplossings aangebied word.

“Ons rig al vir 20 jaar lank gereeld klagtes aan die munisipaliteit. In dié 20 jaar kon julle nie met een permanente oplossing help nie.”

Verlede jaar het die Langeberg-munisipaliteit egter die idee van ’n rioolsuigpomp aangebied en in ’n stadium verwag die gesin moes self vir dié gespesialiseerde toerusting opdok.

Die munisipaliteit het blykbaar dié apparaat in November verlede jaar geïnstalleer.

“Ons het tot ‘n vergelyking gekom en dit is geïnstalleer. Ons het geen verdere klagtes ontvang nie,” verduidelik Anton Everson, die munisipale bestuurder, aan Gazette.

Gazette het in 2021 het ook berig oor riool wat in ’n dam op ’n eiendom in Bonnievale, waar talle kinders speel, ophoop, en selfs as dit reën, in nabye plase se water beland. Ons het ook in detail berig oor riool wat sakeondernemings in die nywerheidsgebied van Robertson geteister het. Tot dusver blyk dit of dié probleme die gemeenskap steeds van tyd tot tyd kniehalter.

Die munisipaliteit het egter gesê oplossings sal gevind word, maar faktore soos vandalisme en beurtkrag het ’n groot invloed op dienslewering.

Vullis en rommel is een van veral Robertson se grootste uitdagings. Gazette het in 2019 berig oor die haglike toestande waarin inwoners van Droëheuwel moet vaskyk. Die munisipaliteit het egter vandalisme en onwettige rommelstrooiery blameer.

Sunette de Villiers, ’n inwoner van Robertson, sê ’n raadslid het verlede jaar op RSG ’n praatjie oor Robertson gehou en in die program – “Ons Mooi Dorp”, omtrent gespog oor Robertson. “Maar wanneer laas was hulle in Dassieshoek, of net by die sportgronde?” vra De Villiers.

Sy meen raadslede en die breër raad sal binnekort iets moet doen om mense aan te spoor om op ’n verantwoordelike wyse van hul vullis ontslae te raak en herwinning te doen.

“As ons klagtes rig, dan val dit op dowe ore,” het La Grange gekla. “Raadslede moet kompetisies hou in die verskeie wyke of hokkies bou van beton waar inwoners hul vullissakke kan gaan weggooi, maar so kan dit nie aangaan nie.”

Die Langeberg-munisipaliteit het teen druktyd nog nie kommentaar oor die vullis-probleme gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article