Cowen van der Merwe het nou splinternuwe wiele nadat hy ’n kompetisie gewen het. Foto: Charlotte Lesch


Cowen van der Merwe (30), beter bekend as Cokes, doen sy bynaam gestand nadat hy vir ’n Coca-Cola-kompetisie ingeskryf het, min wetende dit sy lewe sou verander.

Van der Merwe, ’n inwoner van Malmesbury, het die afgelope Vrydag met ’n 2022- Hyundai Staria R2.2 9S Elite Bus AT ter waarde van sowat R1 miljoen, weggery toe hy as die amptelike wenner daarvan aangekondig is. Spar-kliënte landwyd kon sedert Oktober verlede jaar vir die prys in aanmerking kom deur vir dié kompetisie in te skryf.

Die Fifa Wêreldbeker Katar 2002-Spar-kompetisie het op 18 Desember verlede jaar tot ’n einde geloop. Van der Merwe het baie Coca-Cola produkte gekoop, maar veral Coke Zero, vertel hy.

Met die kompetisie as sy laaste gedagte, maar eerder hoe hy sy 1992-Nissan Sentra aan die loop gaan kry, het Van der Merwe ’n oproep ontvang wat al sy vervoerbekommernisse sou laat verdwyn.

Hy is onlangs gedurende ’n vinnige breek by die werk met ’n oproep van Coca-Cola SA verras en ingelig dat hy as die wenner aangekondig is.

’n Geskokte Van der Merwe kon nie eens sy middagete verder eet toe hy hoor hy die wenner asook die eienaar van die voertuig is nie, vertel hy laggend.

“Ek was opgewonde en verstom en kon nie glo wat ek hoor nie,” vertel hy opgewonde.

Van der Merwe sê dit was nie die eerste motorkompetisie waarvoor hy al ingeskryf het nie, maar een van talle.

Hy sê hy het nooit geweet of sy voormalige kar ooit weer gaan werk wanneer hy dit aanskakel nie en dat dié ryding altyd ’n doring in sy vlees was. “Ek het nog nooit my vorige motor vertrou om ver te ry nie, maar nou kan ek en my familie na enige plek ry,” vertel hy met ’n breë glimlag.

Van der Merwe voeg by dat hy gewis weer vir kompetisies gaan inskryf. “Dalk is ek weer gelukkig.”

Des Möller, die eienaar van Spar The Bank, het sy dankbaarheid teenoor Coca-Cola uitgespreek nadat een van sy klante uiteindelik met die prys weggestap het.

“Dit was ’n absolute gelukskoot. Dit is ’n ongelooflike prys en ons is baie bly vir die wenner,” voeg hy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article