Die plaaslike polisie in samewerking met die provinsiale polisie het Donderdagaand (16 Februarie) op ’n reuse wapenvonds by ’n stoor in Schoonspruitweg in die nywerheidsgebied van Malmesbury afgekom, waar ’n arsenaal vuurwapens van verskillende kalibers asook groot hoeveelhede ammunisie gevind is.
Volgens ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, het die polisie reageer op inligting rakende ’n huisinbraak en diefstal by die stoor en ’n huis toe hulle op die wapenvonds afkom.
’n Verdagte (61), van Duitse afkoms, wat glo die stoor gehuur het, is Vrydag op ’n kleinhoewe in die omgewing van Tierfontein buite Malmesbury in verband met die wapenvonds in hegtenis geneem.
Altesaam 44 vuurwapens, vuurwapenkomponente en ’n astronomiese 42 218 stuks ammunisie is by die stoor en in die verdagte se huis op die kleinhoewe gevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy versuim het om ’n geldige vuurwapenlisensie te oorhandig.
Bheki Cele, nasionale minister van polisie, het Vrydag die toneel waar die wapens gevind is, asook die kleinhoewe, vlugtig besoek. Hy sou die media daar toespreek, maar het nie.
’n Ondersoek is van stapel gestuur waartydens vasgestel sal word of dié vuurwapens met ander misdade verbind kan word.
Die verdagte het gister (Maandag) in die plaaslike landdroshof op aanklagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie asook die besit van vuurwapens wat nie veilig toegesluit of in ’n geregistreerde kluis gebêre is nie, verskyn.
Intussen het die plaaslike polisie Sondagaand laat vier verdagtes in hegtenis geneem wat besig was om ammunisie te tel. Inligting is ontvang dat drie verdagtes (31, 35 en 40 jaar oud) ammunisie by ’n woning in Ilingelethu tel. Die gerugte is met die polisie se aankoms bevestig.
Verdere inligting is opgevolg, wat tot die inhegtenisneming van ’n 19-jarige verdagte, in die besit van ammunisie en ’n ongelisensieerde vuurwapen, gelei het.
“Die polisie vermoed die ammunisie en vuurwapen wat Sondagaand gekry is, kan verbind word met die diefstal wat by die stoor in Schoonspruitweg en die woning op Tierfontein plaasgevind het, waar die polisie op die groot vuurwapenvonds beslag gelê is,” voeg Du Randt by.
Dié vier verdagtes het ook Maandag in die Malmesbury-hof verskyn.
Die omstandighede rakende die wapenvonds word deur die Wes-Kaapse eenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek.



