Reddingswerkers het drie polisiemanne te hulp gesnel ná ’n motorvoertuigbotsing terwyl hulle ’n verdagte gejaag het.


Drie polisielede verbonde aan die Moorreesburg-polisiekantoor is ernstig beseer ná ’n motorvoertuigbotsing Sondag op die N7-snelweg buite Malmesbury.

Volgens AO Nicolette Visagie, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die drie konstabels – wat ten tyde van die voorval aan diens was – kort voor die botsing ’n ander voertuig in ’n jaagtog agternagesit. Die bestuurder van dié voertuig was vermoedelik onder die invloed van alkohol, het Visagie bygevoeg.

Lede van die Malmesbury-polisie het die bestuurder van die betrokke voertuig uiteindelik in die dorp vasgetrek toe ’n ander voertuig, ’n Ford Ranger-bakkie, teen die polisievoertuig gebots het. Die omstandighede wat tot die botsing gelei het, is nog onduidelik.

Die drie konstabels, onderskeidelik 28, 29 en 33 jaar oud, is op die toneel behandel, gestabiliseer en na die naaste hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.

Visagie het Maandagoggend gesê een van die konstabels is wel reeds ontslaan.

Klagtes van roekelose en nalatige bestuur asook verset teen inhegtenisneming in verband met dronkbestuur word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article