Die gemeenskap van Bonnievale ly steeds aan skok nadat ’n geliefde vrou verlede Vrydag (17 Februarie) in die vroeë oggendure op pad werk toe na bewering deur haar ekskêrel vermoor is.
Gazette het verlede week berig oor Nelnishia “Niesie” Kortjé (36), wat omstreeks 05:00 van haar huis in Protealaan, Happy Valley, gestap het toe haar gewese kêrel en pa van hul 10 maande oue baba haar in die straat voorgekeer het. Volgens ’n bron na aan Gazette het die man met Kortjé begin baklei, waarna hy aggressief geraak en haar fisiek begin aanrand het. Kortjé se ma het die struweling gesien en wou tussenbeide tree. Hy het ’n mes uitgepluk en Kortjé veelvuldige steekhoue toegedien.
Gazette verneem die lykskouing het bepaal sy het sowat 30 steekwonde aan haar lyf gehad.
Haar ma het na bewering alles gedoen om hom te keer, maar sy is met dieselfde mes waarmee haar dogter pas voor haar doodgesteek is, gedreig.
Die man het dadelik van die toneel af gevlug. Gazette se susterskoerant Die Burger berig hy het nadat hy gevlug het, probeer om sy eie lewe te neem, maar het misluk aangesien gemeenskapslede hom opgespoor het.
Jerome Windvogel (36) is dieselfde dag in hegtenis geneem en het verlede Maandag in die hof verskyn. Talle inwoners en organisasies uit die Kaap het buite die hof teen geslagsgebaseerde geweld betoog.
Die spanning het hoog geloop en Windvogel is eindelik borgtog geweier. Hy sal weer op 5 April in die hof verskyn.. Mary-Anne Schubert, ’n aktivis van Kaapstad wat by die organisasie OneLove betrokke is, het saam met ’n kollega na Bonnievale gereis om hierdie verrigtinge by te woon.
“Toe ons van die saak hoor, het ons besef ons moet dit bywoon. Ons is genoodsaak om toe te sien dat misdadigers soos hierdie agter tralies bly en vir hul misdade boet. ’n Misdaad teen een vrou is ’n misdaad teen alle vroue. Ons is daarop toegespits om slagoffers van geweld te beskerm en te ondersteun,” het sy aan Gazette verduidelik.





