In Engels lui die gesegde “you can run, but you can’t hide”.
Dis presies wat ’n paar vermeende misdadigers onlangs aan eie bas gevoel het toe lede van die Montagu-polisie vyf gesoekte verdagtes in drie verskillende sake opgespoor en in hegtenis geneem het.
Een verdagte is in ’n hotelkamer in Groenpunt vasgetrek, een in ’n informele woonstruktuur in die Nkqubela-woongebied naby Robertson en die ander drie is op ’n plaas in die Barrydale-omgewing in hegtenis geneem.
Remarck Coetzer (54), ’n verdagte in minstens ses bedrogsake, waarby derduisende rand betrokke is, is Maandag 27 Februarie in sy hotelkamer in Groenpunt in hegtenis geneem nadat die polisie ’n wenk van die publiek ontvang en opgevolg het.
Coetzer verskyn vandeesweek weer in die plaaslike landdroshof vir ’n borgaansoek.
Jacklyn Soldaat, alias Pittejan, se inhegtenisneming hou verband met ’n inbraaksaak waartydens goedere ter waarde van meer as R80 000 gesteel is. Van die gesteelde eiendom, waaronder medies getoetse sonbrille, ’n iPhone-horlosie, ’n goue troupand en ’n goue hangertjie, is teruggevind. Twee iPhone’s is egter steeds soek.
Soldaat, wat in sy skuilplek in Nkqubela vasgetrek is, het hom glo hewig verset en die polisie moes die nodige minimum-geweld gebruik om hom in hegtenis te neem.
Nog drie verdagtes, wie se ouderdomme wissel tussen 19, 21 en 23 jaar, is verlede Donderdag (2 Maart), in verband met ’n poging-tot-moord-aanklagte in hegtenis geneem. Hulle is op die Killarney-plaas in Barrydale-omgewing aangekeer.
Dié inhegtenisnemings volg nadat ’n 18-jarige tienerseun na bewering gewelddadig deur dié drie verdagtes aangerand is. Die verdagtes beweer die seun het eiendom van hulle gesteel.
Al die verdagtes in die onderskeie sake het ná die misdrywe verdwyn, maar danksy inligting van die publiek en flinke polisieoptredes is almal nou agter tralies.
Die polisie bedank die publiek vir hul bydrae en samewerking in dié verband.. Intussen doen die polisie ’n ernstige beroep op die publiek om versigtig te wees vir internet-slenters waar jy kwansuis groot bedrae geld wen of erf.
Mense ontvang dikwels SMS-boodskappe wat lui: “Hello, email your full names to (foldvikfred94@gmail.com) as there is an unclaimed benefit from a deceased client with the same surname as yours.”
Indien jy op sulke versoeke reageer en jou persoonlike besonderhede verskaf, stel jy jouself bloot en kan jy ’n slagoffer van moontlike internetbedrog word, sê AO Suria Meyer, ’n woordvoerder van die Montagu-polisiekantoor.



