Safcol se woelige losvoorspeler op pad doellyn toe vir een van sy span se drieë. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu het Saterdag (11 Maart) sy eerste nederlaag van die nuwe rugbyseisoen gely toe Safcol van Grabouw hom op die King Edward sportterrein met 36-31 ore aangesit het.

’n Begeesterde Safcol het uit die staanspoor groot druk op Villagers uitgeoefen en vroeg in die wedstryd 14-0 voorgeloop nadat hy twee verdoelde drieë aangeteken het.

Villagers het mettertyd van die skok herstel en begin terugveg. Hy het ook twee drieë gaan druk om die rustydtelling op 14-12 te staan te bring nadat net een van sy drieë verdoel is.

In die tweede helfte het die wedstryd, wat teen ’n hoë tempo gespeel is, in ’n titaniese stryd ontwikkel en punte is om die beurt aangeteken.

Safcol het die bal na willekeur wyd gespeel en was gevaarlik op die aanval. Hy het ook die tuisspan in die lynstane hoofbrekens besorg, maar in die vaste skrums het Villagers die besoekers gereeld in trurat gehad.

Die tuisspan het weliswaar goed terugbaklei, maar Safcol, wat alombekend staan as die friendly champs, het uiteindelik die opwindende wedstryd uiteindelik 36-31 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article