’n Bejaarde man van Bonnievale het vermoedelik in ’n sterk rivierstroom, wat weens die hewige stormreën van verlede week veroorsaak is, beland.
Die man, wat in hierdie stadium nog onbekend is aan die polisie, het na bewering verlede Woensdagoggend (8 Maart) skuins ná 08:30 naby die laagwaterbrug by Angora geloop toe hy skielik in die rivier beland en deur die stroom weggesleur is.
Sers. Sera Julies van die Bonnievale-polisie het aan Gazette vertel die polisie het omstreeks 09:00 ’n oproep ontvang van ’n inwoner wat hulp ontbied het nadat die man in die water verdwyn het.
“Ons is dadelik na die toneel om ondersoek in te stel en polisieduikspanne is besig om die gebied te fynkam. Die man se identiteit is steeds onbekend en ons ondersoek alle leidrade. Ons werk om die horlosie om antwoorde te soek.
“Geen misdaad word egter vermoed nie.”
Julies meen egter die man sou al ’n taamlike entjie stroomaf in die rivier beweeg het aangesien die water baie sterk vloei.
’n Ooggetuie wat op voorwaarde van anonimiteit met Gazette gesels het, het gesê hulle ken die man van geen kant af nie en kon nie uitmaak wie dit is nie, maar hy redelik oud gelyk. Sy het gesê dit het baie vinnig gebeur.
“Ons was nie naby genoeg om alles te sien nie, maar dit was moeilik om te aanskou. Jy voel heeltemal magteloos. Die een oomblik sien jy nog die man, en die volgende oomblik is hy net weg. Ons het gehardloop om te kyk waar hy is en of ons kon help, maar hy was blitsvinnig net weg.”
Sy het ook gesê hulle het in die omgewing begin rondvra of iemand nie op soek is na ’n man wat net weg is nie, maar het geen sukses gehad nie.. Enigiemand met inligting word gevra of die Bonnievale-polisie by 023 616 8076 te skakel.




