Van links staan Blayden Pietersen saam met die sokkerafrigter Kelvin-Jean Fortuin en sy spanmaat Lincoln Leander.


Blayden Pietersen, ’n gr. 10-leerder aan Schoonspruit Sekondêr, en sy spanmaat Lincoln Leander (18), ’n gr. 12-leerder, vertrek later vanjaar (op 1 September) na ’n internasionale sokkerspeelveld in Madrid.

’n Liefde vir dié spel, wat in die strate van hul woonbuurt vlamgevat het, kan dalk ’n droom van ’n internasionale sokkerloopbaan vir beide beteken.

Annalise, Lincoln se ma, sê hulle het sowat drie jaar gelede by Wesbank Sekondêr se sokkerspan aangesluit omdat Schoonspruit in daardie stadium nie ’n sokkerspan gehad het nie.

Die seuns het op Tiktok op die sokkerwerwingsagentskap BT Football Recruitment Agency afgekom, wat spelers met talent reg oor die vasteland werf, en hulle die geleentheid bied om sokker op ’n internasionale vlak te gaan speel.

Beide Blayden en Lincoln het hul ouers gesoebat om na die komende proewe in Table View te gaan. Nadat hulle die groenlig ontvang het, het dié aspirante sokkerspelers sommer vinnig hulle name by die agentskap geregistreer. Al twee is met hul eerste probeerslag vir die span wat vanjaar na Spanje gaan toer, gekies.

Die opgewondenheid loop hoog in elke huishouding, maar Annalise het dit sommer vinnig by haar seun tuisgebring dat dit sy matriekjaar is en dat akademie steeds voorkeur sal geniet, lag sy. Om professioneel sokker te speel en eendag ’n internasionale loopbaan in die spel te hê, is wel Lincoln se grootste droom, voeg sy by.

Die span, wat elke naweek in Table View bymekaar kom om te oefen, sal gedurende hul toer teen vyf Spaanse jeugsokkerspanne speel. Real Madrid se tuisveld, Santiago Bernubeu, sal onder meer ook besoek word, waartydens ’n wedstryd van dié ikoniese sokkerspan gekyk gaan word. Die toer sluit ook ’n besoek aan Real Madrid se museum in, waar al hulle trofeë te sien is.

Dit sal gedurende dié geleentheid wees waartydens die Schoonspruiters verder vir ’n professionele sokkerloopbaan en die teken van ’n amptelike kontrak gewerf kan word as hulle gekies word.

Laurie-Kay, Blayden se ma, vertel hoe hulle elke naweek Kaapstad toe moet gaan vir oefening, terwyl hulle deur die week ook hard onder hul afrigter, Kelvin-Jean Fortuin by Wesbank Sekondêr, oefen. En wanneer hulle nie saam met hul spanne oefen nie, pas hulle elke dag altyd sokker iewers in, voeg sy by.

Die algehele koste vir elke jong speler beloop R45 000.

“Dit is die opoffering wat ons as ouers maak vir ons kinders se drome om waar te word,” vertel Annalise. “Hulle is albei opgewonde en oefen elke dag hard om op hul beste te wees vir hierdie kans wat nie elke dag kom om jou drome te bereik nie,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article