’n Inwoner se geliefde troeteldier, wat sowat twee weke verlede vermis geraak het nadat ’n hewige donderstorm uitgebreek en waaroor Gazette verlede week berig het, is veilig terug.
Cornelia Hough, ’n skoonheidsterapeut van die dorp, se hondjie Fifi, ’n miniatuur- Doberman Pincher gekruis met ’n Jack Russel, het Saterdagaand 4 Maart weens die donderweer weggehardloop. Hough en haar gesin was ten gronde en ’n R1 000-beloning aangebied om haar terug te kry.
Fifi het vermoedelik deur die watersloot uit die gesin se erf in Markstraat ontsnap.
“My hart was in stukke, want Fifi beteken soveel vir ons. Sy was twaalf dae weg en haar foto en storie is op al wat ’n sosialemediablad is, gedeel. Die berig in die Gazette het ook baie mense bewus gemaak en sy is ná twaalf dae se gesoek en kommer opgespoor,” vertel ’n verligte Hough aan Gazette.
’n Ander plaaslike inwoner, Maridé Marais, het Donderdagoggend (16 Maart) ’n hondjie gesien wat baie na die beskrywing lyk wat Hough gedeel het.
“Sy het haar naby die laerskool gesien en omdat sy so rats is, nog hulp ingewin. Ons is toe in kennis gestel en sy is later veilig naby Maraispark gevind.”
Hough sê dit is merkwaardig, aangesien Fifi in die rigting van haar huis gehardloop het, wat aan die anderkant van die dorp is.
“Dit is asof sy ons gaan soek het. Die Here was ons genadig.”
Hough en haar ouers, Corrie en Frikkie Kriel, is uiters dankbaar vir Marais se hulp, asook die twee mense wat haar bygestaan het – Rudi Botha en Anri Juren.
Fifi is nou veilig tuis en word blykbaar baie bederf. . Die R1 000-beloning is die afgelope naweek oorhandig.





