Swaar reënval het verlede week weer chaos in die streek veroorsaak.
Talle paaie, plaaspaaie en selfs boorde en wingerde het swaar onder die massas reën, wat in ’n kort tydjie uitgesak het, gebuk gegaan.
Volgens WeatherSA het gemiddelde 62 mm reën sedert Donderdag (23 Maart) in die Robertson-omgewing uitgesak. Volgens hul data het 52 mm oor die Worcester-streek geval.
Boere in albei streke (die Breedevallei en Langeberg) het ook skade weens die reënval opgedoen.
Van Loveren, die bekende wynplaas tussen Bonnievale en Robertson, het op sosiale media bevestig hulle het wel skade opgedoen, maar geensins so erg soos ’n storm wat dieselfde omgewing presies 20 jaar gelede getref het nie.
Paaie in Robertson was ook op plekke onrybaar weens die impak van die storm. Motoriste het aan Gazette gesê dit het ’n geruime tyd geneem vir die stormwaterstelsels om die massas water te dreineer.
Paaie in Worcester was ook tydelik onder water, maar dit het vinnig deur die stromwaterstelsel ontsnap. Die Breedevallei-munisipaliteit het ook voorsorg getref en ’n keerwal naby Roodewal opgerig, waar water opgedam het en skade aan huise só beperk is.





