Die Suid-Afrikaanse wenners van die 2023- Concours Mondial du Sauvignon is (van links) RJ Botha (voorsitter van Sauvignon Blanc SA en keldermeester van Kleine Zalze wyne), Pieter-Niel Rossouw (hoofwynmaker van Darling-kelders), Johan Conradie (besturende direkteur van Vinventions

Die span van Darling-kelders loop nog op wolke.

Só beskryf Pieter-Niel Rossouw, die hoofwynmaker, hul opgewondenheid oor ’n gesogte toekenning wat die wynkelder verlede Maandag losgeslaan het.

“Die prys as die beste sauvignon blanc uit Suid-Afrika in die Concours Mondial du Sauvignon is werklik baie groot vir ons. Ons is baie dankbaar daarvoor,” sê hy.

Dit was boonop die wynkelder se heel eerste deelname aan die kompetisie.

Die kompetisie is vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem gehou en die Sauvignon blanc-vereniging het baie moeite gedoen om die kompetisie hier aan te bied, brei Rossouw uit. “Dit was net die regte ding om hulle daarin te ondersteun,” staaf hy.

Die wêreldwye kompetisie het slegs 28% van die 1 210 wyne met ’n goue medalje beloon.

Darling-kelders het ’n goue medalje vir sy Lady Ann Darling 2021 gewen, asook die beste inskrywing van Suid-Afrika vir Gustus Sauvignon Blanc 2020.

Die wyne wat ingeskryf is, is volgens hom tekens van goeie spanwerk.

“Van die wingerd tot in die bottel – dié ou gesegde van wyn begin in die wingerd, is werklik waar in al die wyne. Die wyne is almal van baie spesifieke plase en uit spesifieke wingerde en spesifieke grondsoorte gekies. Ons het baie goeie ondersteuning en samewerking van die produsente rakende hoe die druiwe verbou moet word. In al die wyne wil ons graag aan die wynliefhebber wys hoe lyk ’n sauvignon blanc of sauvignon blanc-versnit uit Darling.”

Rossouw verduidelik die koue Atlantiese Oseaan het ’n baie unieke invloed op hul wingerde en wynstyle. Die druiwe – en uiteindelik die wyn in die kelder en tydens bottelering – kry ’n klein bietjie meer spesiale behandeling om te verseker dat net die beste in die bottel beland.

“Ons kry net een keer per jaar die kans om wyn te maak en dit te bottel.”

Rossouw beskryf die toekenning verder as ’n groot voorreg en ’n eer.

“Dit is ’n erkenning dat ons as Darling-kelders hoëgehalte- sauvignon blanc produseer, wat oor die wêreld heen erken word. Dit is ’n erkenning aan elkeen wat tot die sukses van die wyn bygedra het. Dit herbevestig bestaande Darling-kelders-klante en gee versekering aan alle nuwe klante dat die wyne van Darling-kelders – en in hierdie geval ons sauvignon blanc met – gemoedsrus gekoop word, sê hy trots.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article