Inwoners van wyk 11 van die Langeberg-munisipaliteit, waaronder Montagu, Ashton en Robertson, het Breederiver Gazette genader oor swak dienslewering in dié wyk.
Volgens die inwoners is geen wyksraadslid in hierdie wyk – ’n vakante pos wat reeds etlike jare vir indiensneming wag – aangestel nie.
Die inwoners kon nie ’n spesifieke aantal jare gee waartydens wyk 11 nie deur ’n raadslid verteenwoordig is nie, maar het wel verduidelik dat dit reeds ’n “klompie jare” die geval is, sonder ’n verduideliking van die Langeberg-munisipaliteit.
Een inwoner spreek dié vakante pos toe aan “onbevoegdheid”.
Volgens die inwoner het hulle, sowel as ander lede in sy buurt wat in Robertson woon, talle klagtes oor die jare by die Langeberg-munisipaliteit aangemeld, maar geen terugvoering van die munisipale bestuurder ontvang nie.
Hierdie klagtes sluit in:. Geen raadslid by wie probleme in die wyk aangemeld of bespreek kan word nie. Slaggate wat net nooit reggemaak word nie. Rioolwater wat opdam en in die strate afloop. Verstopte dreine. Misdaad. Ongereelde wyksvergaderings
Die Langeberg-munisipaliteithet hierdie bewerings ontken, en verduidelik dat Johannes Coetzee sedert November 2021 verkies is as wyk 11 se raadslid met “gereelde” wyksvergaderings wat plaasvind waar inwoners hul klagtes kan aanmeld.
Volgens Daniël Lubbe, munisipale bestuurder, word hierdie klagtes dan aan die verskeie departmente oorhandig wat daaraan moet aandag gee en 85% van dié klagtes is reeds opgelos.
V Die volgende wyksvergadering wat die gemeenskap kan bywoon vind plaas op 18 April om 19:00 in die Robertson-gemeenskapsaal.


