Toe Chris de Jager hom in 1983 as geoktrooieerde rekenmeester as ’n vennoot by ’n ouditeursfirma in Malmesbury aangesluit het, kon hy nooit voorspel dat hy in 2023 sou terugkyk op 40 jaar in dieselfde kantoor nie.

Hy kon ook nie voorspel dat sy dogter Oddette Boshoff saam met hom as mede-direkteur sou begin werk nie – daarom het die eertydse Chris De Jager en Vennote se naam in 2011 na De Jager Boshoff verander en ’n bykomende maatskappygroep gestig as die Unik-groep om ook ander dienste as oudit te lewer.

Sedertdien het hul personeeltal tot 40 gestyg, maar ná die pandemie is 30 entoesiastiese personeellede oor.

“Ons kantoor se belangrikste bate is ons personeel, wat gehaltedienste lewer. Elkeen van hulle neem in elke opsig eienaarskap van hul werk – hulle hou aan met groei en leer, want niemand kan goeie diens lewer sonder uitsonderlike kennis nie. Ons vind dikwels dat hulle spontaan op ’n vakansiedag werk; dat niemand skrik vir werk in uitsonderlike laat ure saans nie.

“De Jager Boshoff Ingelyf en die Unik-groep bied al die dienste wat rekenmeesters lewer, maar ons fokus veral op skaars vaardighede in die bedryf. Van ons personeel het kursusse in buitelandse belasting en groepbelasting voltooi. Ek glo ons is leiers op hierdie gebied,” verduidelik De Jager (70). “Ek en Oddette het volledige BEE-kursusse by Unisa voltooi. Daarom ken ons al die strukture en kodes daarvan.

“Ons doeltreffendheid berus op drie belangrike pilare, naamlik hoëgehalte-personeel, ons kliënte aan wie ons die beste moontlike diens lewer, asook opgedateerde spesialis kennis. Daarsonder kan niemand goeie diens lewer nie,” verduidelik hierdie pa-en-dogterspan, wie se samewerking herinner aan ’n hand wat knus in ’n mooi leerhandskoen pas.

De Jager wys na verjaardaggeskenke wat sy personeel die laaste paar jaar vir hom gemaak het – “[dis] fantastiese geskenke wat ek koester”.

Hierop beskryf personeellede De Jager se positiewe werkkultuur – hoe hulle die kantoor as groeigeleentheid ervaar en hoe hy spanwerk, ’n leerkultuur en onderlinge lojaliteit aanmoedig.

Rather than blaming others for mistakes, you find solutions. Your humbleness opens doors to ask productive questions and further our progress. You treat us as though we make a difference, and so we do,” is van die boodskappe wat hy ontvang het en koester.

“Ongeveer 50% van ons personeel werk reeds langer as 10 jaar by ons; die personeel-omset is relatief klein.”

Oddette, wat daagliks van Melkbosstrand af Malmesbury toe ry en haar kinders by die Laerskool Swartland laat skoolgaan, werk nou amper 20 jaar hier as direkteur.

“Dis ’n groot voorreg om saam met my pa te werk. Ek leer elke dag nog so baie by hom – veral sy wysheid en kennis. Op 70 werk hy nog soos ’n 50-jarige! Veral sy tegnologiese vaardighede is indrukwekkend; dis dikwels beter as dié van baie van die jeugdiges. Die beste van alles is dat hy – al die ekonomiese uitdagings ten spyt – steeds toekomsgerig bly. Hy ondersteun die hele kantoor op die pad die toekoms in.”

’n Stukkie geskiedenis

De Jager vertel hoe die firma oorspronklik in Mei 1953 ontstaan het, wat beteken die firma wat dit vandag is, bestaan al 70 jaar. “In die 1950’s was rugby die dorp se groot samebindende faktor. ’n Klompie rugbymanne het besluit Malmesbury kort goeie nuwe rugbybloed, maar hulle wou nuwe spelers tegelykertyd aan skaars dienste koppel, want dan verbeter dit Malmesbury se rugby én dienste. Die gesamentlike besluit was dat Malmesbury boekhouers kort. Giel Swiegers (speler vir WP en Suidelike universiteite) en die Springboksenter Tjol Lategan was die eerste twee rekenmeesters wat hierdie aanbod in Malmesbury aanvaar het. Tjol het die kantoor alleen beman; Giel kon eers maande later aansluit. Tjol het vertel hoe sy kantoor aanvanklik geen meubels gehad het nie – slegs houtkissies vir stoele. Die eerste kliënt wat by hom ingestap het, was ’n kortbroek-kaalvoetman op soek na ’n boekhouer. Dit was Dicky Hewitt.

“Oom Dicky Hewitt se kleinkinders is een voorbeeld van die vele derdegenerasie-kliënte op ons boeke. Onder andere is daar oom Pieter (Dag-en-Nag) Loubser, oom Truter de Kock, oom Tienie Durr, oom Fanie Basson, Eben Schellink, oom Hentie Smit, oom Henri Burden, DS du Toit, oom Jan (Kapet) Bester, oom Albertus Herholdt, Du Toit Hamman, oom Lambert Louw, oom Andries Jordaan, oom Lionel Frank en oom Jan van der Westhuyzen.

De Jager het in 1983 ’n vennootskap met Malmesbury se Swiegers en Smith aangegaan. Ná ’n paar samesmeltings om uiteindelik deel van ’n groot firma te word, het De Jager die Malmesbury-kantoor in 1989 gekoop en dit na Chris de Jager en Vennote herdoop.

Nadat Oddette haar leerkontrak as rekenmeester by Chris de Jager en Vennote voltooi het, het sy langer as twee jaar by ’n groot korporatiewe maatskappy in Londen gewerk. Toe sy in 2004 weer by die firma aansluit, is die naam oor tyd na De Jager Boshoff verander en die Unik-groep maatskappye is gestig.

Rekenmeesters moes dié Vrydag met ’n graaf in die hand kom werk

Geen onderneming kan 40 jaar deursien sonder groot uitdagings nie. Covid-19, kragonderbrekings en ander probleme toets ook hierdie kantoor se veerkragtigheid. Tog was hul grootste ramp die vernietigende brand wat die geskiedkundige dubbelverdiepinggebou waarin De Jager se kantoor gehuisves word, op ’n Donderdagaand in 1999 platgevee het. “Dit was lank voordat almal selfone gehad het; ons moes die personeel bel en aansê om die volgende dag met grawe te kom werk – hulle moes roet en water kom wegwerk om dokumente te red. Aangesien 90% van ons dokumente in kluise was, kon ons die meeste red. Alle nat dokumente en lêers is agterop die destydse balju, Gielie (Tamatie) Basson, se bakkies na ’n leë skuur aangery, waar ons dit kon uitpak om uit te droog. Die Roseknowe-gebou was ons tydelike kantoorruimte – ons was sonder meubels en het een telefoonlyn in plaas van ons gewone vier lyne gehad.

“Gelukkig het Stefan Terblanche ons ’n aanbod gemaak: Twaalf tafels, 12 stoele en ’n raadstafel teen ’n billike bedrag.

“Een van ons kliënte, wat in Vredenburg/Saldana gewoon het, het die kantoor binne twee jaar heropgebou, al moes hierdie 80-jarige en sy werkers hul matrasse binne-in ’n kantoor oopgooi om tydens die herstelfase sommer ook hier te woon.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article