Hendré Walters (17), ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury, is onder die toptien finaliste in Huisgenoot en Landbouweekblad se landwye kompetisie, Junior Boertjie.
Hy kom in aanmerking om R10 000 te wen, wat sy boerdery volgens hom na nuwe hoogtes sal neem – indien hy as wenner van die kompetisie aangekondig sou word.
Hy het aanvanklik gehuiwer om aan die kompetisie deel te neem, maar dit was uiteindelik sy ouma, Yvonne Walters, wat hom oorreed het om in te skryf, waarvoor hy nou baie dankbaar is.
Walters, eerder bekend as “Chicken” onder sy vriende en familie, woon saam met sy ouers, Dolfie en Eldi Walters, op hul saaiplaas buite die dorp. Dit is hier waar sy passie vir boerdery vlamgevat het.
Hendré, een van vier broers, is een van die topvyf finaliste in die senior afdeling vir boere tussen die ouderdom van 11 en 18 jaar. Die ander vyf finaliste kom uit die jonger span se ouderdomsgroepe van drie tot tien jaar.
Hendré boer met hoenders en boerbokke. Sy passie straal deur terwyl hy oor sy boerdery praat, hoewel hy nie seker is waar die liefde vir ’n hoender nou juis vandaan kom nie.
“My pa weet niks van ’n hoender af nie,” skerts hy, maar sy passie vir die bedryf spruit uit sy lewe op die plaas.
Hy was nog baie klein toe hy die eerste keer werfhoenders by sy buurman, Albert Basson, gesien het.
“Ek het ook altyd na die plaasmense se huise gegaan en na hul hoenders gaan kyk.”
Dit is waar hy sy eerste haan en twee henne as ’n graad 1-seuntjie gekoop het.
Hy het reeds van ’n jong ouderdom af sy eie eierbroeikas in sy kamer gehad en toe reeds ’n fyn oog oor sy boerdery gehou.
Drie jaar later het hy sy eerste 50 lê-hoenderkuikens by ’n familievriend van sy ouers, Francois du Bois, gekry.
“Ek het hulle onder ’n rooi lig grootgemaak.”
Hendré het toe eers eiers begin verkoop.
Hy het dinge kort daarna ’n stappie verder geneem en 100 lê-hoenderkuikens gekry.
Hy was in graad 7 toe hy die lê-hoenders verkoop het. Hy het meer gehou van die uitbroei van ’n kuiken en besef sy liefde lê eerder by die teel van hoenders en om kuikens groot te maak.
Sy pa het hom met die intrapslag op hoërskool 10 hokke help bou toe sy boerdery begin groei het. Hy wou nie net met hoenders teel nie, maar met verskillende rasse.
“My hokke was vinnig vol en dit was ook nog nie die beste gehalte nie,” vertel hy.
’n Jaar later het hy Orpington-hoenders by ’n tannie in Moorreesburg gekoop waar hy ook meer oor veilings geleer het. Hy het toe besluit om van sy “lelike hoenders” ontslae te raak en met goeie gehalte hoenders te begin boer.
Dit was sy missie om die mooiste hoender te kry en met hulle te teel.
Toe sy ouers weer sien, het hy op veilings gebie.
Sy hokke het weer te min geraak en ’n verdere 10 hokke is in sy graad-10-jaar opgerig.
Dit was toe hy by die Wes-Kaapse Pluimveeklub aansluit om meer te kan leer, maar ook te skou, waar hy baie raad by al die verskillende telers ingewin het.
“Ek het baie vrae gevra; ek dink ek was maar lastig,” lag hy.
Hendré het seker gemaak sy hoenders was op skoustandaard.
“Die heel mooistes en beste het agtergebly.”
Sy eerste deelname aan ’n skou was by die Swartland-skou waar hy die beoordelaars beïndruk en met eerste plekke weggestap het. Skool, eksamens en sport meng nou wel nog ’n bietjie in met sy skoudeelname op ander plekke in die land.
Sy boerbokboerdery het in graad 9 begin toe hy sy eerste vyf ooie en ’n ram gekoop het.
Nadat hulle gelam het, het hy die lot verkoop en sommer tien dragtige ooie al die pad uit Graaff-Reinet gekoop, waarmee hy steeds teel. Hy het intussen weer gekoop en boer nou met ’n trop van 60 boerbokke.
Hendré gaan volgende jaar studeer, maar is nog nie seker wat dit gaan wees nie.
“Dit gaan definitief iets in die landbou wees,” voeg hy by.
Een ding is seker, en dit is dat hy eendag wil boer.
Hy beskryf die hoenderbedryf op hierdie tydstip as ’n stokperdjie waarvoor hy nog groot drome het. Sy missie is steeds om die beste gehalte hoenders te teel en eendag die beste Orpington-teler te wees. Dit is nie net die mooiste ras vir hom nie, maar ook die mees gewilde hoender.
. Lesers kan op die Hoërskool Swartland se Facebook-blad vir Hendré stem.





