Jenö Jacobs in aksie tydens sy 150 m-hekkie-rekord by vanjaar se Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms vir laerskole wat vanaf 19 tot 21 in Pietermaritzburg plaasgevind het.Foto:


MONTAGU – ’n 12-jarige gr. 6-leerder van Laerskool Montagu wat vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe vir laerskole gekwalifiseer het, het vanjaar weer skitterend by dié byeenkoms presteer.

Jenö Jacobs het by vanjaar se SA atletiekkampioenskappe wat vanaf 19 tot 21 Maart in Pietermaritzburg plaasgevind het, ’n silwermedalje in die 150 m verower. Verder het hy ook goue medaljes in die 150 m-hekkies en die aflos behaal.

“Verlede jaar is hy in Potchefstroom as die SA kampioen in die 70 m-hekkies vir seuns onder 11 gekroon. Tydens dié byeenkoms het hy ook ’n goue medalje in die aflos vir seuns o.11 behaal,” vertel Jenö se trotse pa, Eugene Jacobs.

Wat dié kranige atleet se prestasie by vanjaar se byeenkoms so merkwaardig maak, is dat hy as die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 150 m hekkies aangewys is nadat hy die vorige rekord in dié item verbeter het.

Hy het dié afstand in 20.21 sek afgeblits. Die vorige rekord was 20.55 sek.

Die talentvolle Jenö het in sy kort atletiekloopbaan al talle rekords by verskillende atletiekbyeenkomste laat spat.

Jacobs sê vandat sy seun aan atletiek deelneem, het hy tot dusver 19 rekords verbeter.

“Benewens die nasionale rekord wat nou agter sy naam pryk, het hy sewe rekords by sy skool se kleure-byeenkoms, vyf by dorpsbyeenkomste en vyf by die Langebergstreek se skolebyeenkomste verbeter.

Jenö het in 2023 in die volgende items rekords verbeter: Skool se kleure-atletiekbyeenkoms: hoogspring, verspring, 75 m-hekkies, 150 m-hekkies, 150 m, 100 m en 1 200 m. Dorpsbyeenkoms: 100 m, 150 m, 150 m-hekkies, 75 m-hekkies en hoogspring. Langebergskole: 100 m, 150 m, 150 m-hekkies, 75 m-hekkies en verspring.

“Verder het hy by ’n Boland-atletiekbyeenkoms (75 m-hekkies en 150 m-hekkies) en ’n Wes-Kaapse byeenkoms (75 m-hekkies) rekords verbeter,” sê Jacobs snr.

Jacobs skryf sy seun se sukses toe aan die Laerskool Montagu se personeel se besonderse ondersteuning, asook die geleenthede vir deelname wat op sy pad gekom het.

“Harde werk, goeie afrigting, toegewyde personeel en ondersteuning van Montagu Laerskool, asook geleenthede tot deelname het Jenö daartoe in staat gestel om tydens die 2022-seisoen op verskeie nasionale ranglyste onder die land se topvyf atlete in sy ouderdomsgroep te eindig.

“Items soos hoogspring en 100 m maak deel hiervan uit,” vertel Jacobs.

Hy sê sy seun se tyd in die 80 m (9.80 sek) by ’n byeenkoms in Groenpunt was uitsonderlik en prysenswaardig.

Die nasionale rekord vir dié item is 10.10 sek.

“Tydens die 2022-afseisoen het Jenö aan drie top-10- en top-15 byeenkomste deelgeneem.

“By al drie hierdie byeenkomste het hy die toekenning vir beste seuns-atleet gewen. Hy het 2022 met altesaam 21 rekords afgesluit,” sê dié trotse pa.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article