– Van bladsy 1
Daar is teen Woensdag oorskot uit altesaam 38 grafte verwyder om op ’n latere stadium weer iewers op die kerk se perseel begrawe te word. Dit sal tydens ’n spesiale seremonie plaasvind.
“Dit is ons verantwoordelikheid om die mense wat hier begrawe is, te eer,” voeg Kaplan by.
Holloway het bevestig dat bouwerk reeds weer hervat het. Hy is dit eens dat die ontdekking van die vonds en die navorsing wat gaan volg van groot waarde is.
Finansiering is intussen deur die kerk toegestaan vir verdere gedetailleerde argiefwerk by die historiese argiewe in Kaapstad, waarvoor Kaplan baie dankbaar is.
“Ons gaan nog navorsing in die argiewe doen om meer uit te vind oor wat voor die kerk se bestaan op die terrein plaasgevind het, asook tydens die bou van die kerke,” sê Huisamen.
So gaan hulle moontlik ook kan uitvind wie die mense was en wat met hulle gebeur het.
Sy vertel ook dat daar nie nog grafmerkers gevind is nie.
“Daar was aanvanklik een grafmerker. Hoekom was daar een, maar die res het hulle gelos?” vra sy.
Kaplan voeg by dat slegs die uitleg van die kiste en geroeste handvatsels oorgebly het, soos die hout deur die jare verrot het.
Huisamen vertel ook van ’n sloot wat teen die muur gevorm het en waarin nog twee grafte ontdek is. Die grafte wat nie verwyder hoef te word nie, word op die plek beveilig en in vrede gelaat. Die grafte getuig van verskillende gemeenskapsvlakke en tradisies. Die oorskot is dié van mans en vrouens, insluitend jong volwassenes, kinders, babas, ’n stilgeborene en ’n tweeling. Daar was ook iemand wat vermoedelik in ’n Khoisan-posisie begrawe is, terwyl die res in Christelike posisies aangetref is. Een skelet is byna heeltemal volledig, terwyl drie tot vier skelette gedeeltelik in plek is. Die oorblywende grafte het slegs skedels of gedeeltes van bene.
“Een van die skedels het trauma deur ’n stomp voorwerp aan die agterkant van die skedel opgedoen,” sê Kaplan.
Kulturele oorblyfsels soos hout -en porseleinknopies is intussen ook opgegrawe, asook Nederlandse kleipypstele, glas en ’n goue kunsgebit (mondstuk) wat gestempel is. Verdere en groter opgrawings sluit gereedskap in wat uit die Steentydperk dateer.
“Ons is nie honderd persent seker oor enigiets wat ons hier ontdek het nie. Hier is baie onbeantwoorde vrae,” sê Kaplan. Hy vermoed dat hulle vir nog sowat ’n week gaan besig wees met opgrawings.




