Young Hamiltons se woelige losvoorspeler hardloop sterk met die bal. Hammies het die Grootuitdaagbekerligawedstryd teen Villagers Montagu op die King Edward sportterrein met 30-27 gewen. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu het Saterdag (15 April) sy tweede agtereenvolgende Grootuitdaagbekerliga­wedstryd verloor toe Young Hamiltons van Worcester hom op die King Edward sportterrein op Montagu ná ’n rillerstryd met 30-27 verslaan het.

Dit was ’n taamlike gelykopstryd met Villagers wat rustyd ’n kortkop voor was – 15-13 op die telbord.

Die tuisspan was blitsvinnig uit die wegspringblokke. Maxwell Klaasen (losskakel) het enkele sekondes ná die afskop gaan druk en sy span sommer bitter vroeg in die wedstyd 5-0 laat voorloop.

Die doelskop was egter mis.

Hierdie blitsige vyfpunter van Villagers het egter nie die besoekers van stryk gebring nie. Trouens, minute daarna het Hamiltons met mening teruggeslaan en ’n verdoelde drie aangeteken om die voortou met 7-5 te neem.

Burtram Jacks (stut) was die driedrukker en Luciano Truter (linkervleuel) het die doelskop oorgeklits.

’n Rukkie later het Truter ’n strafdoel deur die pale gejaag om sy span verder met 10-5 te laat voorloop.

Nie lank hierna nie was die tuisspan vyf meter van die besoekers se doellyn af sterk op die aanval, waar ’n skrum plaasgevind het.

Hamiltons se loskopstut is toe ná ’n skrumoortreding met ’n geelkaart gestraf en die skeidsregter, Habrey Philander, het ’n strafdrie aan Villagers toegeken.

Dit het die voortou weer aan die tuisspan besorg met die telling 12-10.

Dié voorsprong van Villagers was egter van korte duur.

Philander (skeidsregter) het Hamiltons vir ’n oortreding by ’n afbreekpunt gestraf. Hy het egter terstond sy beslissing omgekeer en die strafskop aan die besoekers toegeken toe die tuisspan se binnesenter, Charl-Hein Saunders, glo teëgepraat het. Saunders is toe ’n geelkaart gewys en van die veld gestuur.

Truter het aangelê pale toe en die besoekers het ná die suksesvolle strafdoel weer die leisels oorgeneem met die telling 13-12.

Die wipplankryery het voortgeduur toe Klaasen ná ’n strafdoel die tuisspan se neus 15-13 voor gekry het.

Hoewel Hamiltons kort voor rustyd Villagers op sy doellyn onder groot druk geplaas het, het die tuisspan hom uit sy doelgebied gehou.

Die spanne het toe gaan water drink met die telling onveranderd op 15-13 in Villagers se guns.

Ná die aanvang van die tweede helfte moes Hamiltons weer ’n keer met 14 man oor die weg kom nadat een van sy spelers ná ’n gevaarlike duikslag met ’n geelkaart gestraf is. Villagers kon egter nie munt uit die besoekers se situasie slaan nie.

Nadat Hamiltons weer voltallig was, was dit die besoekers wat swak verdediging van die tuisspan uitgebuit het toe sy heelagter, Garth Jacobs, ná ’n praglopie in die regterkantse hoekie afgerond het.

Truter en sy akkurate skopvoet was weer in die kol met die doelskop en Hamiltons het die derde keer in die wedstryd weer die voortou geneem met die telling 20-15.

Die tuisspan, wat goed geskrum, maar kwaai in die lynstane gesukkel het, het geweier om boedel oor te gee en verwoed aangeval. Ná verskeie stormlope deur die voorspelers op Hamiltons se doellyn het Ulfred Terblanché (flank) oorgeval.

Beon Hartnick (regtervleuel), wat die skopwerk oorgeneem het nadat Klaasen vervang is, het met die doelskop geslaag om die voortou vir die vierde keer aan sy span te besorg met die telling 22-20.

Kort hierna is Terblanché egter met ’n geelkaart gestraf en Truter het die besoekers weer ’n keer met ’n suksesvolle strafdoelpoging voor geplaas om die telling 23-22 te maak.

Steeds was dit het einde niet.

Villagers het kort voor die einde weer teruggeslaan toe sy agsteman, Bradley Ruiters, wat ’n barshou gespeel het, gaan druk het. Die doelskop was mis, maar die tuisspan het vir die soveelste keer in die wedstryd weer voorgeloop met die telling 27-23.

Sy ondersteuners het al die oorwinning op die horison gesien en gejubel van vreugde.

Maar toe kom die besoekers se Elton Setera in die doodsnikke van die wedstryd en skakel Villagers se krag soos ’n wafferse minister van elektrisiteit met ’n pragdrie agter die doelpale eensklaps af.

Truter, met sy dodelike skopvoet, het nog twee punte bygevoeg, wat aan Hamiltons ’n welverdiende oorwinning van 30-27 besorg het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article