Lede van die plaaslike polisie in Malmesbury het vandeesweek ’n verdagte in hegtenis geneem nadat altesaam 1 034 kreefsterte in sy besit gevind is.

Die polisie se fokus om die winsgewende dog onwettige kreefhandelbedryf in die kiem te smoor, werp vrugte af nadat die 35-jarige Woensdag vasgetrek is. Die plaaslike polisie het inligting opgevolg oor iemand wat kreefsterte by sy woning in Jacarandastraat in Wesbank aanhou.

Die meer as 1 000 kreefsterte is in die yskas aangetref. Die verdagte is weens die besit van kreef sonder ’n geldige permit in hegtenis geneem.

Die verdagte het Donderdag (20 April) in die plaaslike landdroshof in Malmesbury verskyn.

Kol. Benjamin Gqabi, die stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisie, het sy dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek wat saamwerk om misdaad stop te sit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article