MONTAGU – Sy was eers baie geïnteresseerd in opvoedkunde en wou haar graag as ’n onderwyser bekwaam, vertel Gwendelee du Toit, wat onlangs ná 35 jaar diens die tuig van verpleegdiens-bestuurder (matrone) by die Montagu- provinsiale hospitaal neergelê het.
Du Toit, wat deur die meeste mense sommer as “Matrone” aangespreek is, het in 1985 aan die Langeberg Senior Sekondêre Skool in Robertson matrikuleer en wou baie graag eers onderwys gaan studeer, maar die geld was maar skraps, sê sy.
Sy het ’n aansoek aan ’n verpleegsentrum gerig, maar nie op haar louere gerus terwyl sy op ’n antwoord gewag het nie en eers by die Langeberg-inmaakfabriek in Ashton as ’n seisoenwerker ingeval en daarna by die Spar in Montagu gewerk.
Nadat sy lank geen terugvoer oor haar aansoek gekry het nie, het ’n vasberade Du Toit besluit om persoonlik te gaan navraag doen. Sy is in Junie 1987, tydens haar verlof, na die Tygerberg-hospitaal toe om te gaan uitvind wat die uitslag van haar aansoek was. Net ’n maand later – in Julie – het sy die goeie nuus ontvang dat haar aansoek goedgekeur is en sy het as verpleegkundige by Tygerberg begin werk.
Sy het haar opleiding in 1989 voltooi en dadelik vir die verpleegsusterkursus ingeskryf, wat sy in 1991 suksesvol voltooi het. Hierna het sy ook met kraamopleiding by die Grootte Schuur-hospitaal begin.
Du Toit het haar diploma as geregistreerde vroedvrou in 1994 verwerf en by Mitchellsplein se kraameenheid gewerk. Voorts het sy haar vir die gemeenskapskursus in administrasie by die Universiteit van die Wes-Kaap ingeskryf.
As deel van dié kursus moes sy 18 maande ononderbroke nagdiens verrig. Hierdie kursus het sy ná ’n jaar en ses maande van uitmergelende nagskofte op 25 Junie 1999 suksesvol voltooi.
“Die geld wat ek verdien het, was nog baie min, so gedurende universiteitsvakansies moes ek toe ook nog in private hospitale werk om my studies te betaal.”
Sy het by die Montagu- hospitaal as kraamsaalsuster begin werk, waarna sy in 2000 die verpleegbestuurder by die Robertson-hospitaal geword het.
Drie maande later het die verpleegbestuurderspos in Montagu ook vakant geraak en sy moes toe tussen Robertson en Montagu kies.
Vanselfsprekend het sy Montagu gekies, en in 2001 is sy permanent as verpleegbestuurder (matrone) van die Montagu-hospitaal aangestel.
Du Toit het in 2003 ’n provinsiale prys vir uitstaande diens gedurende die vloedramp van daardie jaar ontvang.
“Die hospitaal was verskriklik besig daardie tyd. Ek het vyf dae en nagte aaneenlopend by die hospitaal deurgebring. Ek het soms kort rukkies in die verpleegsterstehuis, wat op die hospitaalterrein geleë is, gaan slaap net om ’n bietjie te rus in te kry,” vertel sy.
Dié formidabele vrou is ook maar net ’n mens. Werksdruk het mettertyd sy tol begin eis.
Du Toit sê haar hoë werkslading het later ’n nadelige uitwerking op haar gesondheid gehad. Sy glo ook die koms van die Covid-19-pandemie het ’n rol in die agteruitgang van haar gesondheid gespeel.
Daarby het sy ook van tyd tot tyd personeel en kollegas aan die dood afgestaan,
Sy was dus vir ’n lang tydperk tot 10 Oktober 2022 met siekteverlof en het uiteindelik ter wille van haar gesondheid besluit om haar beroep vaarwel toe te roep.
So, hoe gaan sy haar tyd nou, ná haar uittrede, verwyl?
“Die gemeenskap lê my baie na aan die hart,” begin Du Toit. “Ek wil baie graag as motiveringspreker optree en veral leerders by hoër- en laerskole in die Langebergstreek toespreek oor die belangrikheid van loopbaanbeplanning en studiebeurse.
“Dikwels weet die kinders nie eens watter vakke hulle benodig om byvoorbeeld verpleging hul beroep te maak nie.”
Verder dink sy ook daaraan om ’n oornagplek vir verkragtingslagoffers te open en te bestuur, sluit ’n baie entoesiastiese Du Toit af.





