Surisnie Wilskut (15) van Robertson is gaande oor hardloop – veral vinnig hardloop.

Sy is só vinnig dat sy gereeld met goue- en silwermedaljes kan spog en nie ’n enkele bronsmedalje huis toe gebring het om in haar aanneem-ma se sitkamer uit te stal nie.

Surisnie het in 2023 reeds 11 medaljes verower, waarvan agt goue medaljes is, en die res silwer.

Sy is ’n gr. 9-leerder aan die Steinthal Sekondêre Skool in Tulbagh, waar sy in die koshuis woon en elke twee weke terugkeer huis toe – in Droëheuwel, Robertson.

Haar suster Chrissandra Wilskut het gesê Surisnie het van tienjarige ouderdom ’n passie vir atletiek ontwikkel. “Sy het die atletiekbaan op laerskool betree en van daar af nog nooit teruggekyk het nie,” vertel Chrissandra.

Surisnie neem tans aan die driesprong-, 100m- asook 200m-uitdunne in die o.15- tot o.19-ouderdomsgroepe deel.

Dié ywerige en talentvolle atleet maak slegs staat op die afrigting van haar huidige skool se atletiekafrigter, en hulle het saam-saam groot sukses sonder enige professionele hulp behaal.

Surisnie het hierdie jaar van die skole-atletiekkampioenskap tot die Boland-Wes-Kaap- en Suid-Afrikaanse kampioenskap gevorder, waar sy haar wildste drome oortref en met goue en silwermedaljes huis toe gekom het.

Volgens Chrissandra is dit haar suster se droom om Suid-Afrika “eendag” in die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Surisnie styg uit ten spyte van uitdagende omstandighede. Sy is met ernstige fetale alkoholsindroom gebore en sy is op negejarige ouderdom deur haar biologiese ma se nefie en sy vrou aangeneem. Sy is nou een van ses kinders, van wie drie ook deur haar aanneem ma, Christaline Wilskut, en haar man aangeneem is.

Chrissandra het aan die Breederivier Gazette verduidelik haar suster het haar atletiekloopbaan sonder behoorlike sportdrag begin en maak meestal staat op die klere en skoene wat die skool vir haar gee.

Onlangs het Surisnie egter ’n groot skenking van Tony La Vita, ’n verteenwoordiger van die Olympic-skoene-handelsmerk, ontvang. Dié oragnisasie het nuwe tekkies en klere geborg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article