Van rakpakker tot doktorsgraad . . .
Toe Petrus Venter van Malmesbury drie weke gelede sy D Comm-graad in bemarking by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) ontvang, was hy oor verskeie redes dankbaar. “Ek kan met terugskoue sien hoe die Here my in elke fase van my lewe en loopbaan gelei en toegerus het om te doen wat Hy wou gehad het ek moet doen – ook om hierdie spesifieke doktorstesis te skryf. Alle eer kom die Here toe.”
Venter het oorspronklik sy B Comm-graad aan die Potchefstroom-universiteit –deesdae die Noordwes-universiteit (NWU) verwerf. Ná verdere studies en werksondervinding het die Venter-gesin in 1983 na Malmesbury verhuis, waar hy tot 1989 as projek- en mannekragbestuurder by WPK (nou Kaap Agri) gewerk het.
Met ’n onderwysagtergrond (hy was vroeër junior lektor by NWU) het hy van 1989 tot 2017 as lektor en later senior lektor en hoof van die kleinhandelafdeling by KSUT gewerk terwyl die gesin steeds op Malmesbury woon.
Toe Venter besef daar bestaan geen formele kwalifikasies vir kleinhandelbestuurders nie, het hy en kollegas die eerste diploma in kleinhandel-sakebestuur aan technikons ontwikkel. Hierdie kursus is aanvanklik by die Kaapse Technikon (nou KSUT) en Wits Technikon geïmplementeer om die leemte aan formele opleiding vir bestuurders die hoof te bied. “Dié program word tans deur vyf Suid-Afrikaanse universiteite aangebied en is een van die universiteitsprogramme met van die hoogste indiensnemingsyfers van afgestudeerdes in die land.”
In sy 28 jaar by KSUT het Venter hom daaraan gewy om die diplomakursus en kurrikulum uit te brei sodat kleinhandelbestuurders met ’n diploma in die hand verder kon studeer vir ’n meestersgraad in kleinhandelsakebestuur. Met Venter as hoof van die kleinhandelafdeling is Suid-Afrika se eerste Kleinhandel-leerstoel (Retail Chair) aan die KSUT gevestig ten einde navorsing in kleinhandel te bevorder.
Vir sy eie M Comm, wat hy in 1995 cum laude by die NWU verwerf het, was die titel van sy verhandeling “Opleiding in ondernemingsbestuur aan Technikons”.
“Terwyl ek nog altyd beleef het hoe die Here my lewenspad met ’n groter plan bestuur, het Hy my ná my aftrede in 2017 help besef daar bestaan geen omvattende bestuursgids ter ondersteuning van kleinhandelbestuurders nie – vandaar die onderwerp vir my doktorstesis, ‘A framework for a generic retail charter in South Africa’. My doel was om aan kleinhandelbestuurders praktiese, generiese riglyne (as’t ware ’n GPS) te ontwikkel wat hulle vir hierdie uitdagende taak kan gebruik.”
Venter het sy doktorsgraad vyf jaar later verwerf.
“Soms het dit gevoel asof ek my in ’n doodloopstraat bevind, sodat ek moed verloor en die handdoek wou ingooi. Dan sê iemand iets wat my bemoedig, of my navorsing stuur my in ’n nuwe rigting. Vandag is ek nederig dankbaar vir die ondersteuning wat ek van kollegas, vriende en veral my vrou, Annette, met haar filosofie dat ’n mens ’n ding klaarmaak waarmee jy begin, gekry het.
“Een groot inspirasie was ons jong buurvrou, Elna Dürr. Sy het ten spyte van uitdagings weens haar gesondheid onlangs haar doktorsgraad in sielkunde verwerf.”
Gaan hy nou finaal aftree? “Ons gaan nou eers lekker rus en by vriende en familie kuier. Tog vra die tesis opvolgwerk: Ek wou dit in ’n boek in meer alledaagse taal omskryf, maar my promotors beveel aan die tesis (wat in Engels geskryf is) moet in Afrikaans en Xhosa vertaal word en vir studente en toekomstige navorsers beskikbaar gestel word, en later moontlik in ’n boek om vir almal toeganklik te wees.”
Op persoonlike vlak was Venter as gemeenskapsmens altyd bereid om sy kant in Malmesbury te bring – hy dien by die laer- en hoërskool op die bestuursliggame waar hul kinders leerlinge was, by die kerk, sakekamer en ander gemeenskapsaksies. “Ek en Annette het langer as 30 jaar die Swartland Gemeenskapkalender uitgegee om oorvleuelings van groot byeenkomste te voorkom.”
Venter noem sy vakansiewerk tydens sy hoërskool- en studentejare om sy studies en lewenskostes te betaal – as rakpakker by Stilfontein-Checkers in gr. 11 en 12, ’n melkery-operateur; ’n kelner op treine; ’n versendingsklerk by Yskor se staalfabriek; deur-tot-deur-verkoper van brandblussers en skoonmaakprodukte; ’n versendingsklerk by die Alusaf-aluminiumsmeltery in Richardsbaai en verkoper van nywerheidswarmwaterstelsels.
“As ek – ’n aspirant-rakpakker en kelner – tot by ’n D-graad kon vorder, is dit vir ander rakpakkers ook moontlik!” . ‘Mense wat inspireer’ is ’n nuwe reeks artikels wat handel oor gewone mense wat in hul daaglikse bestaan dinge op so ’n manier doen dat dit ander inspireer. Dikwels besef hierdie mense nie eens dat hulle ware inspireerders is nie.





