‘n Good Hopes-speler maak skoon agter die skrum. Foto: Ruben Samson

Credit: SYSTEM

Nadat Wesbank verlede week in ’n klipharde Derby-wedstryd met 13 elk gelykop teen Never Despair gespeel het, was hy hierdie naweek gasheer vir Good Hopes van Riebeek-Wes op die Wesbank-terrein.

Ondersteuners is Saterdag (6 Mei) met opwindende Grootuitdaagrugby op Wesbank deur die gasheer, Wesbank en Good Hopes van Riebeek-Wes, vermaak.

Wesbank, wat voor Saterdag se bulstryd die voorloper was, is in sy agterplaas deur Good Hopes ore aangesit. Die nederlaag het hom twee plekke na derde op die punteleer laat afsak.

Wesbank het halftyd 7-3 voorgeloop, maar Good Hopes het ander planne in die tweede helfte gehad.

“Vir elke afrigter is dissipline en verdediging een van die belangrikste kenmerke van ’n wedstryd, en dit is vir Good Hopes van kardinale belang.

“Goeie verdediging teen Wesbank het ons in die wedstryd gehou. Ons fiksheids- en kondisioneringsafrigters het ná ons laaste twee wedstryde goeie resultate met die spelers behaal, en daarvoor moet ek hulle bedank,” het Romeo Adams, Good Hopes se afrigter gesê.

“Op verdediging het Jacquin Jansen besonderse goeie werk verrig, want dit is waar ons Wesbank geklop het. Hoewel ons rustyd 3-7 agter was, het ons in die tweede helfte beheer van die wedstryd geneem en R. Marcell in staat gestel om ons vierde drie te behaal, wat deur R. Matala verdoel is. Ons voorsprong van 26-14 het die druk na Wesbank geskuif,” vertel Adams.

Freddie Mcquire, Wesbank se afrigter, sê op sy beurt rotsvaste verdediging en ’n afdwaling van die plan was een van die span se knelpunte. “Ons het die eerste vyf minute gewys ons is ’n sterk aanvalspan, maar kon net nie afrond nie. Dissipline het ons in steek gelaat, maar al twee spanne het hierin gefaal en die wedstryd met drie geelkaarte vir ons en een geel- en een rooikaart vir Goodhopes ontsier.

“Goodhopes het ons gedurig onder druk geplaas. Ons balbeskerming het soms ontbreek, en hulle het dit uitgebuit,” het Mcquire gesê.

Volgens hom het hulle hard met die manne gepraat om net op hul funksionele rolle te fokus en die skeidsregter se besluit te respekteer en met die afrigters op alle aspekte saam te werk.”

Die verloor was Wesbank se eerste tuis teen Good Hopes, maar dit kan later teen hulle tel, want die kompetisie is kliphard.

Never Despair het die krane teen Villagers van Witterwater oopgedraai toe hulle Villagers gelooi het met 73-7 in ’n weg-wedstryd.

Spairs, wat Wesbank ’n week gelede tot ’n gelykopuitslag gedwing het, was terug tekenbord toe en volgens die afrigter Gerhard Januarie het hulle hul dissipline opgeknap. “Ons het ook hardlooplyne verbeter, aanpassings in die skrum en ons sterkpunt, verdediging, gemaak,” het Januarie gesê.

Spairs, wat rustyd reeds 29-0 voor was, het die wedstryd uiteindelik 73-7 gewen.

Neil Papier se Darling-span, wat ’n week gelede deur Good Hopes in Riebeek- Wes geklop is, het karakter getoon toe hy Moorreesburg 37-20 geklop het. Met Abbotsdale wat nou die nuwe liga voorloper is, gaan die vonke gewis in die oorblywende eersterondewedstryde spat.

Ander Grootuitdaaguitslae op 6 Mei 2023

Saron 24-25 Abbotsdale, Porterville 46-15 Riebeeck United, Hopefield 40-28 Koringberg. Piketberg het ’n loslootjie geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article