Hendré Walters (17), ’n matriekleerder aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury, is aangewys as die wenner van Huisgenoot en Landbouweekblad se landwye kompetisie, Junior Boertjie.
Walters, ’n hoender -en boerbokboer wat aanvanklik gehuiwer het om destyds vir die kompetisie in te skryf, is verlede week deur die organiseerders van die kompetisie in kennis gestel dat hy die groot wenner van die R10 000-prysgeld is. Hy het daarin geslaag om nege ander finaliste wat tot die eindronde deurgedring het, met sy boerdery uit te stof. “Ek was baie bly om dit te hoor,” vertel ’n gelukkige Walters. Hy bieg egter en sê hoe hy eintlik reeds van die kompetisie vergeet het. “Ek het dit glad nie verwag nie,” voeg hy by.
Walters, wat hoofsaaklik op die Orpington-hoenderras fokus, is steeds vasbeslote om sy boerdery verder uit te brei. Dié prysgeld gaan hom nou die geleentheid gee om juis sy doelwit na te streef, vertel hy.
Volgens hom het die kompetisie hom gewys dat hy “tog iets reg doen” in sy boerdery, lag hy. “Dit was ook ’n goeie bemarkingsgeleentheid vir my hoenders,” voeg hy by.
Walters het nie vir een oomblik gewag nie en het reeds van die prysgeld op nuwe hoenderrasse spandeer. Nou moet hy besluit of die res van die geld op nóg hoenders of op sy boerbokboerdery bestee gaan word. “Ek gaan óf nog nuwe hoenderrasse of beter gehalte hoenders aanskaf, maar ek moet ook my boerbokram vervang,” vertel hy met groot ywer.
Walters verskyn binnekort in die Landbouweekblad en Huisgenoot. Hy en sy gesin bedank almal wat hom met die kompetisie ondersteun het.





