Breederivier Gazette het uitgereik na Robertson se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) asook hul buurtwag om te hoor hoe die dorp misdaad beveg.

Volgens Bernard Cupido, die voorsitter van die Robertson GPF, is die dorpsgebiede wat die meeste onder misdaad deurloop, Bergsig, Dorpsig, Panorama, Nkqubela, en Môreson, met ’n daling in die middedorp weens die nuut gevestigte buurtwag.

Cupido het verduidelik die soort misdaad die meeste in dié gebiede voorkom is diefstal, huisinbrake, wat opportunistiese misdaad insluit, asook beplande diefstal en huishoudelike geweld.

“Baie produkte word in beurtkrag gesteel wanneer dit donker is, en mense wat met hul selfone in die donker loop, word ook beroof,” het Cupido gesê.

Volgens Richard Joseph, die voorsitter van Robertson se nuut gevestigde buurtwag, wat in Augustus 2022 bekendgestel is, word boewe gereeld in hul spore gestop.

“Daar was onlangs ’n geval waar verdagtes gesien is toe hulle oor ’n muur spring, waar die patrollielede was op die spoor van die oortreders nog voordat die huiseienaars bewus was daarvan,” het Joseph verduidelik.

“Die buurtwag patrolleer ook tydens beurtkrag, en die teenwoordigheid van die patrollies het al telkemale pogings tot inbrake gekelder,” volgens Joseph.

“Meer as 7 000 km se patrollies is al in gery, met sowat 2 900 km die afgelope vyf weke alleen.”

Die buurtwag beplan om binnekort ’n noodnommer vry te stel wat inwoners kan skakel om patrolleerders te ontbied, en die buurtwag sal ook akkreditasie by die departement van gemeenskapsveiligheid ontvang, wat gratis opleiding vir die patrolleerders beskikbaar sal stel.

Vir enige navrae, of om by die buurtwag betrokke te raak, kan ’n e-pos-boodskap gestuur word na michaelf@rcnw.co.za of sarah@rcnw.co.za.

Die verskil tussen ’n GPF en ’n buurtwag

’n GPF is ’n strategie wat op vrywilligers staatmaak en daarop gemik is om misdaadbeheer te bereik asook polisiediens te verbeter.

Dit is ’n platform wat die middelman is tussen die gemeenskap en die plaaslike polisie.

’n Buurtwag, daarenteen, is ’n groep inwoners wat – ook vrywillig – misdaad in hul gemeenskap bestry en die oë en ore van die plaaslike polisie en GPF is.

Die buurtwag, en in hierdie geval die Robertson-buurtwag, sal dan met die GPF kommunikeer, terwyl die GFP met die plaaslike polisie sal kommunikeer om inwoners en veiligheidsgroepe se bekommernisse te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article