MONTAGU – Vier rowers het Saterdag (3 Junie) omstreeks 06:00 die plaaslike Shoprite-winkel beroof. Minstens een van die booswigte was met ’n vuurwapen gewapen.
Met die Gazette se besoek aan die toneel het kliënte, personeel van Shoprite asook talle nuuskieriges buite die winkel rondgestaan.
Rooi en wit polisielint was voor die ingang gespan. Lede van die plaaslike polisie en ander misdaadondersoek-deskundiges was binne die perseel doenig.
Niemand behalwe die polisie en ondersoekbeamptes is in die winkel toegelaat nie.
Die polisie was vir etlike ure op die toneel besig.
Teen ongeveer 11:20, nadat die polisie se ondersoek op die toneel afgehandel was, is die personeel binnegelaat.
Die winkel is om 11:40 weer vir sake heropen, waarna klante wat geduldig voor die winkel gewag het, met hul inkopies kon voortgaan.
Volgens inligting was die klaer, wie se naam in hierdie stadium om veiligheidsredes nog weerhou word, reeds in die winkel toe twee mans – een met ’n vuurwapen – saam met twee ander mense, wat besig was om brood af te lewer, die winkel binnegekom het.
Dit was om ongeveer 05:50.
’n Derde man het later ook die winkel betree.
Een van die mans het na bewering die klaer beveel om die instapkluis oop te sluit.
Terwyl hy daarmee besig was, is hy na bewering oor die kop geslaan en sy selfoon en beursie is afgevat.
’n Veiligheidsbeampte is na bewering ook aangerand.
Nadat die kluis oopgemaak is, het die booswigte na bewering met ’n groot bedrag geld, drie selfone en ’n beursie in ’n grys Toyota Verso van die toneel af gevlug.
Dié Toyota-motor is later dieselfde oggend by ’n aftrekplek in die Kogmanskloofpas net voor die tonnel verlate gevind.
AO Suria Meyer, ’n woordvoerder van die plaaslike polisiekantoo, het die voorval by navraag bevestig.
Sy het voorts gesê ’n saak van gewapende roof by ’n sakeperseel word ondersoek en niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.




