Van links is John Durr, dr. Mogale Sebopetsa, dr. Ivan Meyer, Nico Uys en Louis Wessels.


Die Wes-Kaapse departement van landbou het die afgelope Woensdag ’n skenking van R75 000 aan die rooivleis-produsente-organisasie in die Wes-Kaap geskenk.

Dié bedrag is beskikbaar gestel vir nagsigtoerusting vir veediefstaleenhede in die provinsie.

“Veediefstal bly een van die grootste uitdagings vir lewendehawe-produsente,” vertel Nico Uys, voorsitter van die RPOWK. Hy verduidelik dat die RPOWK die sekretariaat van die Wes-Kaapse veediefstalvoorkomingsforum behartig om ’n bydrae tot die voorkoming en bekamping van veediefstal in die provinsie te lewer.

“Dit is regtig verblydend om te weet dat die departement die beste belange van die landbouprodusente in die Wes-Kaap op die hart dra,” voeg hy by.

Die skenking is die afgelope Woensdag deur die plaaslike departement by hul hoofkantoor op Elsenburg aan die organisasie oorhandig. Die RPOWK het onderneem om verdere fondse van ’n R100 000 by te dra tot die aankoop van voldoende toerusting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article