Ouers en inwoners van Chatsworth buite Malmesbury het hul misnoeë teenoor die plaaslike skool se skoolhoof, Elgin Hendricks, by ’n vreedsame protesoptog op 29 Mei laat hoor.
Hendricks is sedert 1 Julie 2010 die skoolhoof by Chatsworth Primêr.
Die skool het intussen na ’n nuwe skoolgebou verhuis, wat tans meer as 1 200 leerders akkommodeer.
Die betoging volg op klagtes van ouers van leerders by Chatsworth AME Primêre Skool, wat glo al jare op dowe ore val. Volgens Wilma Persence, ’n plaaslike ouer wat as woordvoerder vir ontevrede ouers en inwoners optree, word die leerders en ouers glo deur die skoolhoof onregverdig behandel. Klagtes sluit onder meer in ’n gebrek aan kommunikasie, onregverdige behandeling, herhaaldelike skorsing en leerders wat weens die skoolhoof se aksies glo nie meer wil terugkeer skool toe nie.
Persence meen die skorsing van leerders ruk handuit. “Ouers het geen sê in die besluitneming van hul kinders se toekoms nie,” verduidelik sy. “Ons het geen probleem met die feit dat stappe gedoen word teen leerders wat as gereelde oortreders beskou word nie,” sê sy. “Ouers kla leerders word dissiplinêr verhoor ná net enkele oortredings, en sonder ouers se teenwoordigheid of kennis. Leerders word ook glo geskors sonder enige verduideliking van die skoolhoof se kant af,” brei Persence namens die ouers uit. “Kinders van agt jaar oud sit reeds op straat, wat ’n groot bekommernis is,” verduidelik sy.
Nóg ’n kwessie wat ouers erg onthuts laat, is die feit dat die skool glo slegs in Engels kommunikeer en onderrig slegs in Engels gegee word. “Afrikaans as hooftaal en onderrigtaal is stelselmatig uitgewerk. Dit is ’n Afrikaanse gemeenskap. Baie inwoners kan skaars Afrikaans lees; nog minder Engels,” laat ’n ander inwoner, wat anoniem wil bly, hoor.
’n Vergadering is in Januarie met Hendricks belê, gevolg deur nog ’n vergadering in Februarie asook een in Maart, waartydens ouers hul klagtes teenoor die skoolhoof kon uitspreek.
Nadat geen optrede vanuit die vergaderings gespruit het nie, het ouers besluit om in protes teen die skoolhoof op te tree.
Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het bevestig die departement is bewus van die situasie.
Volgens Merton is wel met amptenare en bekommerde ouers by die plaaslike onderwysdistrikskantoor in Malmesbury vergader. Dié vergadering het op 1 Junie plaasgevind, waartydens aantygings teen die skoolhoof bespreek is. “ ’n Ondersoek weens die aantygings en klagtes is van stapel gestuur en duur voort. Terugvoering sal aan die gemeenskap gegee word,” voeg sy by.
Die departement het op navraag oor die leerders wat geskors is en intussen nie na die skool toe teruggekeer het nie, gesê die departement doen baie moeite om leerders reg oor die Wes-Kaap agter die skoolbanke terug te kry. “Dit is belangrik om te weet dat leerders tussen die ouderdomme van sewe en 15 jaar oud verplig word om skool by te woon. Ons verbeter jaarliks op ons syfers van leerders wat skool tot graad 12 voltooi, en het die beste slaagsyfer in die land,” voeg sy by.
Ouers word gevra om die distrikskantoor te besoek oor leerders wat nie wil terugkeer skool toe nie, sê sy.
Persence het bevestig die ondersoek deur die departement sou 15 dae duur voordat terugvoering aan ouers gegee kan word. Die raadslid Richard Jooste het bevestig hy dra wel kennis van die situasie.
Ten spyte van talle probeerslae kon Hendricks nie voor druktyd vir kommentaar bereik word nie.

