MONTAGU – Die plaaslike polisie tesame met die gemeenskapspolisiëringsforum het die Babbel en Bekkie pre-primêre skool Vrydag (9 Junie) as deel van kinderbeskermingsweek besoek en met die jongklomp oor kindermolestering gesels.
Konst. Esmarelda (Essie) Philander, gemeenskapsmisdaadvoorkomingsbeampte van die Montagu-polisiekantoor, het op vernuftige wyse eers die kleintjies se aandag vasgevang deur die polisiehulpmiddels aan die opgewonde groepie te wys en toe gedemonstreer hoe dit gebruik word.
Volgens Philander was die kleinspan gaande hieroor en het dit baie geniet.
Toe het sy op ’n baie kinderlike wyse die sensitiewe onderwerp van die moets en moenies van kindermolestering aan die nuuskierige groepie met behulp van speelgoed soos die teddiebeertjies verduidelik.
Philander is bygestaan deur Rhoda Negus, voorsitter van die Montagu-gemeenskapspolisiëringsforum.





