Jermaine Kleyn, ’n slot van Montagu, duik oor die doellyn vir sy span se derde drie. Montagu het dié Grootuitdaagbeker-kragmeting teen Rangers Robertson op die King Edward sportterrein 42-35 gewen. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die verdedigende Breë-Langebergkampioen, Robertson Rangers, het hom Saterdag (10 Junie) teen ’n begeesterde Montagu-klub-span vasgeloop.

Montagu het die Rangers op teen die verwagting op die King Edward sportterrein in ’n Grootuitdaagbekerliga-kragmeting 42-35 verslaan.

Die tuisspan, wat voor dié wedstryd in die negende posisie op die Breë-Langeberg-punteleer was, het die besoekers, wat toe nog die nommer-een-posisie beklee het, behoorlik deurmekaar gehardloop.

Montagu was in ’n verwoestende bui en het veral in die eerste helfte met Rangers, wie se verdediging in dié periode power was, die vloer gevee.

Die telling was ná drie drieë, twee doelskoppe en een strafdoel deur die tuisspan in ’n japtrap 22-0 in Montagu se guns.

Die Rangers-span het ietwat verslae voorgekom, en terwyl sy ondersteuners ewe verstom was oor dit wat voor hul oë afgespeel het, het die tuisskare luidkeels hul span met “We want more! We want more!” aangemoedig.

Rangers se probleme het in die skrums begin, waar Montagu hom in dié faset van die spel kwaai laat les opsê het. Die besoekers se skrum was die meeste van die tyd in trurat.

Teen rustyd was die telling 22-10 in die tuisspan se guns nadat die besoekers van die aanvanklike bomskok herstel en ’n verdoelde drie en ’n strafdoel aangeteken het.

Ná die blaaskans het Montagu sy ystergreep op Rangers verstewig met nog twee drieë, twee doelskoppe en ’n strafdoel.

Rangers het egter karakter gewys. Hy het stelselmatig begin terugveg en mooi in die wedstryd teruggekom.

Na twee strafdoele, ’n strafdrie en ’n verdoelde drie was die telling laat in die wedstryd 39-30 met die tuisspan steeds voor.

Die tuisspan moes vir ’n paar minute in die tweede helfte met 13 man speel omdat albei sy vleuels kort ná mekaar weens ontoelaatbare spel met geelkaarte afgestuur is.

Om die wedstryd egter buite bereik van die besoekers te plaas, het die tuisspan na aan die einde van die wedstryd, as versekeringspremie, nog ’n strafdoel deur die mik gejaag om die telling 42-30 te maak.

Maar, soos dit ’n kampioenspan betaam, het Rangers nooit gaan lê nie. Hy het tot die bitter einde verwoed terugbaklei. Gevolglik is hy kort voor die eindfluitjie met ’n derde drie beloon, wat die eindtelling op 42-35 te staan gebring het.

Rangers het egter dié ligawedstryd basies reeds in die eerste helfte, waartydens Montagu ’n groot voorsprong opgebou het, verloor. Hy moes daarna al die pad inhaal-rugby speel en ongelukkig het die uurglas vir hom leeggeloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article