’n Wesbank-speler op loop teen Good Hopes op die Wesbank-terrein. Foto: Ruben Samson

Credit: SYSTEM

Die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker-ligas is van die opwindendste rugby-gebeurtenisse in Boland-rugby en lok ondersteuners van heinde en ver.

Saterdag 10 Junie het die Swartland-streekspanne ondersteuners met sprankelrugby in Wesbank, Abbotsdale, Darling en Porterville getrakteer.

Ondersteuners wat die eersterondewedstryde misgeloop het, kan hulle gewis gereed maak vir sprankel-Grootuitdaagbeker-rugby in die tweede ronde.

Die Swartland-streek het verlede Saterdag hul eersterondeverpligtinge voltooi met drie naelbytoorwinnings deur die tuisspanne, wat toeskouers tot op die laaste minuut van die wedstryde op hul tone gehou het.

’n Titaniese stryd tussen Abbotsdale en Wesbank het op die tuisspan se veld gewoed.

In ’n wedstryd wat baie rugbykenners in die Swartland-streek as een van die beste in ’n baie lang tyd tussen die twee buurspanne beskou, het Abbotsdale en Wesbank mekaar tot in die laaste minuut opgekeil.

Abbotsdale het net-net daarin geslaag om Wesbank se vlerke met 26-25 te knip, terwyl Never Despair baie diep moes delf om ’n begeesterde Good Hopes op die Wesbank-sportterrein met 30-29 te verslaan.

In nog ’n bulstryd tussen Porterville en Saron het die tuisspan met drie punte gewen. Darling het Riebeek United onthaal en kon eers laat in die tweede helfte die knoop deurhaak om 59-21 te wen. Met Darling wat Saterdag 17 Junie sy laaste eersterondewedstryd teen Saron met ’n 41-13-oorwinning afgesluit het, is die tafel gedek vir kookwaterrugby in die tweede ronde.

Tussen die vyf topspanne is die verskil agt en vier ligapunte, wat beteken enigeen kan die titel wen.

Abbotsdale lyk op die oomblik na die gunsteling as die statistieke in ag geneem word nadat hy agt wedstryde gewen en net een verloor het. Sy eerste wedstrydpunte is ongelukkig aan Porterville toegeken omdat hy weens klubverpligtinge onder skorsing van die Boland-rugbyunie was.

Wesbank, die 2022-kampioen in die tweede plek, kan opdraande van Darling, Good Hopes en Never Despair verwag. As die gemiddelde as maatstaf dien, is Darling en Good Hopes se verdediging die beste in die liga en ’n bedreiging vir Abbotsdale en Wesbank, met Spairs agter hulle in die ry.

Saron, Moorreesburg en Porterville kan ’n paar opskuddings of twee in die tweede ronde oplewer ná ’n paar goeie onlangse vertonings.

Riebeeck United verbeter met elke wedstryd en behoort sy Grootuitdaag-beker-status te behou, maar Villagers Wittewater gaan aan die einde van die seisoen na die streekuitdaag gerelegeer word.

Good Hopes is ongetwyfeld die verrassing van die seisoen en het vriend en vyand met kookwaterrugby en positiewe spel verras, en ’n moontlike tweede plek is nie onmoontlik nie, want dié span is die voorste driedrukkers. ’n Bulstryd soos min word in die tweede ronde tussen die vyf swaarkanonne verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article