ASHTON – ’n Groepie inwoners van Ashton, bestaande uit volwassenes en kinders, het Saterdag (17 Junie) ’n pretloop gehou om veral mans bewus te maak van verskillende soorte kanker wat geneig is om by mans voor te kom.
Deelnemers het vroegoggend op dié triestige wintersdag by die OBED-sentrum in Abattoirweg opgedaag vir die pretloop, wat deur die Ashton-Kansakomitee onder leiding van Marinda Beukes, voorsitter van die komitte, gereël is.
Stalletjies waar eetgoed en ander ware te koop was, is ook vroegdag op die perseel van die sentrum, waar ’n gesellige atmosfeer geheers het, opgerig.
’n Verpleegsuster, Maurita Staal, was vir die duur van bewusmakingsaksie by die sentrum vir gratis ondersoek beskikbaar.
Voordat die deelnemers in die pad geval het, het Esmarelda Booysen fonds ontwikkelings-koördineerder van die komitee in ’n kort toespraak die vyf algemene kankers – prostaat-, kolon-, long-, nie-hodgkin se limfoom- en melanoomkanker, wat meestal by mans voorkom – aan die stappers verduidelik.
Daarna het die dapper stappers die roete in die koue, reënerige toestande aangedurf. Sagte motreën het tydens die pretloop uitgesak, maar dit het geensins die stappers se geesdrif gedemp nie.
Ná die pretloop, wat in ’n vrolike luim geskied het, is ’n gelukkige trekking gehou, waar verskeie mense allerhande pryse gewen het.





