Handré Ontong, die linkervleuel van Montagu, druk een van sy span se sewe drieë. Ontong, wat ’n goeie wedstryd gehad het, het ’n drieëdriekuns behaal en sy span met die wendrie gehelp om die Grootuitdaagbekerkragmeting teen Protea van De Doorns met 44-39 te beklink. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Suid-Afrikaanse Weerkantoor het die afgelope naweek reënneerslae vir die Boland voorspel, maar op die King Edward-sportterrein in Montagu het ’n vlaag drieë in plaas van reën uitgesak.

Nie minder nie as 12 drieë is Saterdag (8 Julie) in die Grootuitdaagbekerkragmeting tussen Montagu en Protea van De Doorns gedruk.

Die tuisspan het sewe drieë ingeryg terwyl die besoekers, wat driekwart van die wedstryd met 14 man gespeel het, nie ver agter was nie – Protea het vyf keer agter sy gasheer se doellyn gaan kuier.

Handré Ontong (linkervleuel) het ’n driekuns behaal, terwyl sy kaptein en heelagter, Cleve Malgas (2), Nico Khana (slot) en Niven Langdown (plaasvervanger-losskakel) die ander vyfpunters vir Montagu aangeteken het.

Ontong het ook met twee doelskoppe en een strafdoel geslaag, terwyl Langdown ook ’n doelskop oorgeklits het.

Protea se driedrukkers was die losskakel, Santino Ranchod (2), die senterpaar, Shaun Jones en Faizel de Bruin, en die linkervleuel, Philip Willemse, elkeen een.

Jonathan Jordaan (regtervleuel) het die res van die besoekers se punte met vier doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Hoewel dit ’n baie opwindende wedstryd was waarin al twee spanne die bal lekker lug gegee het, het die dissipline by tye gelol.

Die skeidsregter, Shane Muller, het altesaam ses strafkaarte – vyf geel en een rooi – tydens die kragmeting uitgedeel.

Een speler van Protea, die nommer 4-slot, is vir ontoelaatbare spel met ’n geelkaart van die veld gestuur.

Wat presies daarna gebeur het, was nie duidelik nie, maar terwyl hy langs die veld op die straf-stoel gesit het, het Muller ’n rooikaart uitgepluk en ’n speler beveel om die speelgebied te verlaat.

Spel is op ’n tydstip in die wedstryd ook vir ’n redelike lang tyd onderbreek toe die tuisspan se agsteman, Jaylo Walters, ernstig beseer is. Walters was heeltemal onvas op sy voete en het in die doelgebied inmekaargesak.

Muller het ’n bloukaart omhoog gehou, wat daarop gedui het dat die speler vermoedelik erge harsingskudding opgedoen het. Hy het daarom Walters se verdere deelname met die toon van die bloukaart beëindig.

Montagu het die aksiebelaaide kragmeting goed begin toe Ontong sowat vyf minute ná die afskop sy eerste van drie drieë gaan druk het.

Protea het egter teruggeslaan met twee strafdoele deur Jordaan en ’n drie deur De Bruin, wat ook deur Jordaan verdoel is.

Dit het die telling na 13-5 in die besoekers se guns geneem.

Montagu het kort hierna sy agterstand so te sê uitgewis toe Ontong sy tweede drie gaan druk en self verdoel het om die telling 13-12 te maak, met Protea slegs ’n enkele punt voor.

Met die aanbreek van rustyd het die besoekers egter ’n groter voorsprong geniet.

Protea het ’n verdoelde drie aangeteken. Daarna het Malgas sy eerste drie gaan druk, waarna die besoekers met ’n verdoelde drie teruggekap het, wat die rustydtelling op 27-17 in Protea se guns te staan gebring het.

Ná die welkome ruskans het Montagu die tweede skof met nuwe ywer gepak en stadig maar seker begin terugveg.

Khana en Malgas (sy tweede) het gaan druk en Ontong het ’n doelskop en ’n strafdoel bygevoeg.

Die besoekers het egter weer ’n verdoelde drie gedruk en die telling na 34-32 laat groei.

Protea was steeds ’n kortkop voor.

Die spanning het begin oplaai toe Montagu met twee strafdoelpogings misluk het, terwyl Protea nog ’n drie gaan druk het, wat die telling na 39-32 laat klim het.

Met bitter min speeltyd oor en die spreiligte ’n geruime tyd aan, het die vlugvoetige Langdown die skare op hul voete gehad toe hy die verdediging in die lug laat gryp en onder die doelpale oorgeduik het vir sy span se sesde drie, wat hy ook sommer self verdoel het. Sy drie het die spanne met 39-39 gelyk laat trek.

Kort hierna het die kragmeting op ’n dramatiese wyse geëindig toe beurtkrag met die laaste beweging van die wedstryd ingeskop en Ontong feitlik in halfdonkerte in die linkerhoek vir sy derde drie oorgeduik het. Die eindfluitjie het net ná die mislukte doelskop geblaas.

Protea, met een speler minder, het ’n moedige en merkwaardige stryd gevoer, maar Montagu het met sy indrukwekkende veggees en deursettingsvermoë dié naelbytstryd welverdiend met 44-39 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article