Van lugwaardin tot formidabele kok – dít is Karen Els (46), ’n nuweling van Malmesbury, wie se passie vir kos behoorlik uit haar straal.
Karen se uitstekende kookvermoë is binnekort te sien op kykNET se nuwe Kokkedoor Vuur & Vlam-reeks.
Sy is ’n gebore en getoë Nataller en kom van Amanzimtoti. Daarna het sy die wêreld as lugwaardin platgereis. Dit is ook hoe sy aan verskillende disse van reg oor kontinente heen blootgestel is. Sy en haar man het in haar tyd tussen lugrederye ontmoet.
Ná 22 jaar in Delmas, waar Karen en haar gesin op ’n plaas gebly het, is daar besluit om na die Swartland te verhuis. “Dit was ’n groot aanpassing,” erken sy, maar die beste besluit nóg. “Die mense het ons met ope arms ontvang,” vertel die ma van drie met ’n breë glimlag. Sy is steeds oorweldig deur inwoners wat haar in die Swartland verwelkom en laat tuis voel het. Sy beskryf dit as ’n voorreg om hier te bly.
Hoewel haar gunstelingvak op skool huishoudkunde was, het haar kookvernuf moontlik ook gekom van skelm kook, lag sy. “Ek is ’n enkelkind en my ouers het albei gewerk. Ek het ’n klein Kook en Geniet-kookboek by my ma gekry. Soms het ek skelm kos gemaak terwyl hulle gewerk het. Ek en ons huiswerker het die kombuis so vinnig as moontlik skoongemaak voordat hulle by die huis sou kom,” dink sy terug.
Hulle het baie in haar ouerhuis kosgemaak, maar haar liefde vir kos het deur die jare ontwikkel. “Ek is ook erg tradisioneel. Ek hou van my boerekos,” voeg sy by.
Karen sal eersdaags saam met onder andere ’n predikant, ’n hondeteler, ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n wynmaker op die kassie verskyn.
Dit is van die beroepe van die koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam se 20 deelnemers van oral in Suid-Afrika.
Karen bieg sy het haar aansoek twee keer probeer terugtrek. Die produksiespan het haar egter oortuig, nadat sy die kortlys vir ’n oudisie gehaal het, en sy het besluit om voort te gaan, min wetend dat sy vir die reeks gekeur sou word. “Ek het reeds die kontrak geteken toe ek weer gebel het om my inskrywing te kanselleer,” vertel sy.
Vandag is Karen bly dat sy wel voortgegaan het. “Ek het deurgedruk en dit was die beste besluit van my lewe,” erken sy.
Sy was voorheen ook as ’n MasterChef-finalis te sien. Haar deelname as Kokkedoor was ’n droom wat ’n werklikheid geword het. Volgens Karen intimideer kameras haar glad nie. Om oor kos te praat, kom natuurlik vir haar, sê sy.
Kykers het in 2013 die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf.
Karen maak dit duidelik dat Kokkedoor Vuur & Vlam nie oor braai gaan nie, maar oor die vernuf om alle kos – van slaai tot vleis op ’n vuur – voor te berei. Sy het nog altyd van vuurmaak gehou. Hoewel sy nog altyd wou deelneem, was haar grootste oortuiging om in te skryf haar doelwit om die persepsie onder kykers te verander dat braai en vure nie tot mans beperk is nie.
“Baie mans werk laat of is nie altyd by die huis nie. Ons as vroue kan self die vuur aansteek en kan self vleis braai. Ons hoef nie net die slaai te maak nie. Jou man kan langs jou staan terwyl jy braai,” brei sy uit.
Sy sien ’n vuur as ’n verlenging van ’n stoof. “Ek reguleer die hitte, nie die knoppie nie,” stel sy dit duidelik. Haar skoorsteen werk ook oortyd wanneer sy elke aand die vuurherd by haar huis stook.
Haar deelname het haar lewe onherroepelik verander, ondanks haar onlangse egskeiding. Bande tussen deelnemers is gesmee, wat sy vir niks sal verruil nie, beklemtoon ’n emosionele dog opgewonde Karen . “Hulle was my steunpilaar deur ’n moeilike tyd. Die Here het baie vir my gedoen.”
Sy sien baie uit na kykers se reaksie. “Suid-Afrika gaan verlief raak op hulle almal. Kykers gaan aangenaam verras wees en elke episode is propvol vermaak”, verklap sy.
Karen vertel van al die wonderlike idees wat sy graag na afloop van die program sal wil aanpak. “Die streek het soveel om te gee. Ek wil die fokus op die Swartland stel. Jy kry alles reg hier vanuit die Swartland.” Volgens haar hoef jy na geen ander plek te gaan om al jou bestanddele vir ’n wenresep te kry nie.
Vir Kokkedoor Vuur &Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en die braaighoeroe Kobus Botha op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.
’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos. Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak ’n draai in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en Eat Out-beoordelaar Herman Lensing en die kosfoendi Errieda du Toit lid is van vervaardigingspan.
Dié reeks, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET.





