’n Leerder van Anne Pienaar Gedenk Primêr leer hoe om deeg in hul kookkunsklas te maak.Foto: Verskaf


Die Anne Pienaar Gedenk Primêr op die plaas Jakkalsfontein buite Malmesbury maak geskiedenis nadat hulle die eerste laerskool in die land is wat vier nuwe vakke by hul kurrikulum kon byvoeg.

Die vakke is Tuinbou, Kookkuns, Skoonheid en Grafiese Kuns. Altesaam 45 leerders wat sukkel om in die hoofstroom te kom is geïdentifiseer om elk een of twee van die vakke te mag neem. Skoolhoof Annemarie Duvenhage beskryf dit as ’n groot voorreg om te sien hoe die leerders elkeen op hul gebied in die vakke presteer en daarin floreer. “Ons het besluit om vir hulle ’n beter geleentheid te gee en hul selfvertroue ’n hupstoot te gee deur die leerders op ’n ander manier te betrek,” vertel sy.

Al 45 leerders moes aanvanklik eers verwys word na die skoolsielkundige voordat hulle kon kwalifiseer en met die vakke kon voort gaan. “Almal is toe aanvaar vir die individuele ontwikkelingsplan waartydens hulle by tye onttrek word vir die vakke.”

Die vakke vind op die stadium elk een keer per week plaas. Duvenhage vertel daar is slegs vier onderwysers wat die kurrikulum vir die vakke geskryf het en aanbied. “Die onderwysers gee voltyds skool, daarom is assistente en hulp van nog personeellede ingebring om by die klasse teenwoordig te wees en te help,” verduidelik sy. Duvenhage het die kurrikulum vir die kookkuns geskryf, terwyl die tuinbou-kurrikulum deur William Izics behartig is. Thalia Erasmus was vir die skoonheidsvak verantwoordelik en Brittanéé Appolus het die kurrikulum vir die grafiese kuns saamgestel. “Lena Koordom (tannie Lienkie) wat ’n skoonmaker by die skool is, het baie ervaring in die kombuis. Sy ken die kurrikulum en is die amptelike twee hande in die kombuis wanneer die vak aangebied word.”

Riaan Booisen en Fortuin Abrahams, twee ervare tuiniers wat aangestel is om die skool se groentetuin te ontwikkel, help in die tuinbouklas. “Hulle is die ‘onderwysers in die tuin’,” vertel Duvenhage opgewonde. Nadine Pieters, ’n assistent by die skool, staan op haar beurt die skoonheidsklas by en help ook uit by die grafiese kunsklas.

Die skool het ’n skenking van R25 000 ontvang om te help met die daarstel van die vakke. Duvenhage het toe R6 000 vir elke vak uitgesit wat tans gebruik word om die basiese aankope vir die klasse te doen.

Baie toerusting is egter nog kort. Die kookkunsklas het onder meer nog voorskote en produkte nodig om die klas tot sy reg te bring.

Die grafiese kunsklas sal kan doen met nog items soos krale of materiaal om projekte te kan uitvoer.

“Ons hande is min. Ons kan nie fisies altyd by wees nie en ons het hulp nodig om die vakke te laat voort leef en hopelik later na ander skole te laat uitbrei.

Die leerders vorder fluks en kry vir die eerste keer positiewe terugvoering op hul rapporte wat ’n groot verskil maak,” voeg Duvenhage by.

Sedert die inhuldiging van die vakke aan die begin van die tweede kwartaal, het die skoliere van die tuinbouklas se tuin vorm begin aanneem en beddings is volstoom aan die groei. Die kookkunsklas het reeds sop vir die oueraand voorgesit, viskoekies gemaak, brode gebak, die kuns van suurlemoenstroop geleer en vele meer.

“’n Leerder het tot by die huis in die kombuis begin help,” glimlag sy.

Die harevleg-vaardighede raak ook al hoe beter én Duvenhage spog reeds met die kunswerke wat uit die grafiese kunsklas kom.

Die doel van die vakke is onder meer om entrepreneurskap by die leerders te bevorder, verduidelik sy verder. “Hulle moet byvoorbeeld hul eie tuine by hul huise kan maak. Die leerders kan ook hul eie groente verkoop en ’n inkomste genereer,” meen Duvenhage. “Ons droom saam met die leerders dat hulle eendag hierdie vaardighede sal kan gebruik om hulle drome waar te maak.”

Die vakke kom nie sonder hul uitdagings nie. Duvenhage is egter oortuig dat dit nie moontlik sou wees sonder die harde werk van die personeel nie. “Ons wil net die beste uit elke kind uitbring en die beste vir hulle gee.”

Duvenhage hoop om inwoners vanuit die plaaslike gemeenskap te betrek wat die skool in hul doel kan help en ondersteun.

“Alle hulp van inwoners wat moontlik op een van die vakgebiede spesialiseer, is welkom,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article