Marco Jones, kragtige losvoorspeler van Robertson Rangers word hier deur Robertson Town se regtervleuel gelak in dié twee spanne se Grootuitdaagbeker-derbywedstryd. Town het die kragmeting met 30-24 gewen.Foto: Norman Evertson


Die Robertson Town- rugbyspan het die afgelope Saterdag (22 Julie) tydens die grootuitdaagbeker-ligawedstryd teen Robertson Rangers gespeel waar hul 30-24 gewen het.

Met slegs enkele minute speeltyd oor en Rangers op daardie stadium met 24-23 voor, was die bal van die inskop vanaf die tuisspan se 22-meterlyn direk oor die kantlyn. Dit het ’n skrum aan die besoekers op Rangers se kwartlyn besorg.

Dié blaps was egter so reg in Town se kraal, want dit het hulle in ’n baie gunstige posisie geplaas.

Van daardie vasteskrum af het Town vir Rangers se doellyn meedoënloos met die een fase-spel na die ander gepeper. Rangers het soos besetenes verdedig, maar kon nie al die gate toe stop nie.

Juandré Joseph van Town (heelagter), het uiteindelik ’n gaping gevind, en oorgegaan vir ’n drie wat deur Collin Willemse (losskakel) verdoel is.

Met Joseph se verdoelde drie het die besoekers wéér die voortou geneem, en minute later na die eindfluitjie geblaas het, as oorwinnaar van die veld gestap.

Nietemin, sal die wedstryd waarskynlik ook vir Rangers se merkwaardige verdediging onthou word.

Die tuisspan was vir die grootste gedeelte van die wedstryd agter en het deurgaan ’n opdraende stryd gevoer.

In die eerste helfte het Dawie Conradie (losskakel) ’n strafdoel vir Rangers aangeteken, terwyl Ryno Conradie (heelagter) ’n onverdoelde drie gedruk het.

Town se punte het gekom van ’n strafdoel deur Willemse en ’n drie deur Jennewil April wat ook deur Willemse verdoel is.

Dit was egter ook in dié periode voor rustyd waarin die tuisspan se kragman, Marco Jones (losvoorspeler), met ’n geelkaart gestraf is, en Rangers vir tien minute met slegs 14 spelers moes klaarkom.

Tydens halftyd, was Town met 13-8 voor.

Na rustyd het die besoekers hul voorsprong vergroot met ’n onverdoelde drie deur Runé Lucas (vleuel) wat gedruk het (18-8), met die tuisspan wat kort daarna met ’n suksesvolle strafdoel deur Conradie geslaag het, wat die agterstand verklein het toe die telling 18-11 geword het.

Albei spanne het talle kere die bal in kontaksituasies verloor of aangeslaan, wat belowende bewegings gekniehalter het.

In die laaste paar minute was Town se Gershwin Africa (skrumskakel) oor Rangers se doellyn, maar die skeidsregter het dit onwettig verklaar en ’n strafskop aan die tuisspan toegeken.

Kort na dié insident het Duan Bredenkamp egter wel vir Town gaan druk. Dié onverdoelde drie het die telling na 23-11 in Town se guns geneem.

Hierna het Rangers besef hy sal sy spelpeil moet lig as hy nog ’n kans wil staan om die wedstryd te wen. Die tuisspan het toe karakter gewys en met mening terugbaklei.

Binne die bestek van ’n paar minute het hulle twee onverdoelde drieë ná mekaar ingeryg en ’n strafdoel aangeteken.

Rangers het met sowat sewe minute speeltyd oor die voortou met 24-23 geneem.

Die spanning was hoog toe Willemse met enkele minute voor afblaastyd, met ’n redelik maklike strafdoel misluk het.

’n Skrum is op Rangers se 22-meterlyn aan Town toegeken waarna die besoekers ’n sarsie opgetel het, en stormlope op Rangers se doellyn van stapel gestuur het.

Nadat die voorspelers nie kon deurkom nie, is die bal na agter gestuur waarna Joseph die Rangers-ondersteuners se vreugde vure met ’n drie wat deur Willemse verdoel is, geblus het.

Joseph se verdoelde drie het Town in staat gestel om dié spanningsvolle derbykragmeting met 30-24 te beklink en daarmee saam sy posisie bo-aan die Breë-Langebergpunteleer te verstewig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article