MONTAGU – Wilma Christoffels se liefdadigheidsorganisasie, Helpende Handjies, het Dinsdag 18 Julie, as deel van Mandeladag-viering, sowat 1 315 mense, wat kinders sowel as volwassenes ingesluit het, met ’n heerlike bord of bakkie warm kos, koeldrank en vrugte bederf.
Die kinders het lekkergoed ook gekry en daar is ook klere uitgedeel.
Helpende Handjies is ’n organisasie sonder winsbejag wat daagliks tientalle kinders ná skool van kos voorsien.
Volgens Christoffels wat aan hoof van dié organisasie staan, is haar organisasie geheel en al van donasies en skenkings afhanklik.
Sy is daarom verskriklik dankbaar en wil ook langs hierdie weg al die donateurs, skenkers en besighede wat dit vir haar en haar organisasie moontlik maak om daagliks die groot aantal honger magies te voed, hartlik bedank.
“Baie dankie ook aan my getroue helpers. Vele hande maak die harde werk baie ligter,” het ’n dankbare Christoffels gesê.





